Alrie het die land aan die praat oor haar skoonheid wat haar op die November-uitgawe van SARIE laat beland het, en hy is die jong ster in die Cheetahs se Curriebeker-kamp.

“Ek is ongelooflik trots op Alrie,” vertel Michael aan sarie.com. “Ek het nie vir ’n oomblik getwyfel dat sy sou wen nie, ek het dit net geweet!”

Michael is, nes Alrie, 20 jaar oud, en is die jongste haker wat tot dusver vir 'n span in die Curriebeker uitgedraf het.

Die twee het op skool uitgegaan, en ná matriek het hul paaie geskei, maar toe hulle mekaar vanjaar weer raakloop, het die liefde van voor af begin blom.

“Alrie is die mees elegante en amazing mens wat ek al ontmoet het!” spog Michael met sy beeldskone meisie.

“Dit gaan vir my lekker wees om in ’n winkel in te stap en stapels SARIE’s met Alrie se gesig op te sien. Ek is geweldig trots.”

Alrie Velleman en Michael van Vuuren Michael van Vuuren en Alrie Velleman

Michael woon in Bloemfontein en Alrie in Port Elizabeth, waar hulle op skool was. “Ons sien mekaar een keer per maand vir so week,” sê Michael.

Hy gaan volgende jaar sielkunde studeer deur Unisa, en wil graag in sportsielkunde spesialiseer, maar sy grootste droom is om eendag vir die Springbokke uit te draf.

Vanaand gaan hy haar by die lughawe oplaai, en dan het hy vir haar 'n heerlike verrassing ... maar daaroor wil hy nie 'n woord rep nie!

Alrie Velleman en Michael van Vuuren