Die blonde skoonheid en Mej. Suid-Afrika 2011, Melinda Bam, is deur die Suid-Afrikaanse FHM aangewys as die sexyste vrou in die wêreld. Hulle stel jaarliks 'n lys van die 100 sexyste vroue saam, wat ook internasionale sterre en modelle insluit.

Sy het verlede jaar die 13de plek beklee, maar het vanjaar heel bo aan dié lys geëindig.

Ander Suid-Afrikaanse skoonhede wat dié lys gehaal het, sluit in Minki van der Westhuizen, Simone de Kock, Rizelle Applegreen en Lee-Ann Liebenberg. Internasionale sterre sluit in die model Kate Upton en verlede jaar se wenner, Mila Kunis.

Die 24-jarige Melinda het bewys sy is nie net 'n mooi gesiggie nie en het 'n blywende teenwoordigheid op die plaaslike mode- en celeb-toneel. Buiten haar betrokkenheid by verskeie liefdadigheidsorganisasies het sy haar eie swemklere-reeks, Bambshell, wat sy saam met die Suid-Afrikaanse handelsmerk Dax Martin ontwerp.

Lees meer oor Melinda Bam in die Julie-uitgawe van SARIE. Nóú op die rakke.