Die filmpaartjie Sean Penn en Charlize Theron het glo agtergekom dis nie altyd so maklik om saam te werk nie, berig OK! Magazine.

Sean Penn is die regisseur van The Last Face, wat in Suid-Afrika geskiet word. En Charlize speel een van die hoofrolle in dié film. Maar volgens ’n bron wat op die filmstel is, loop dinge nie so glad nie.

"In die daaglikse lewe is Sean nogal rustig, maar op die stel is hy ’n ander persoon, veral wanneer hy regisseer," het dié anonieme bron aan OK! Magazine gesê.

Charlize is glo nie gewoond aan dié kant van Sean nie, en sy voel asof sy in sy oë niks reg kan doen nie. Hy vra haar na bewering om haar tonele oor te skiet en sê sy het nie genoeg passie vir dié rol nie.

Ons weet nie of dít waar is nie, maar indien dit is, sal dit seker hul trouplanne vir ’n rukkie uitstel. Charlize en Sean is sedert einde 2013 ’n paartjie, maar het eers aan die begin van die jaar saam by geleenthede opgedaag.

Sean en Charlize vroeër vanjaar by 'n geleentheid in Kalifornië FOTO: Gallo Images / Getty Sean en Charlize vroeër vanjaar by 'n geleentheid in Kalifornië
FOTO: Gallo Images / Getty

In The Last Face speel Charlize ’n dokter wat welwillendheidswerk in Afrika doen. Javier Bardem (Penélope Cruz se man) speel teenoor haar en die rolprent gaan oor die morele keuses wat hulle moet maak in ’n gebied wat deur politieke konflik geteister word.

Bronne: OK! Magazine via RTE

Lees ook