Sy is 'n tenniskampioen wat al 23 Grand Slams verower het en vier maande gelede ook die titel van ma bygekry het. Serena Williams se dogtertjie, Alexis Olympia, is op 1 September 2017 gebore. 

Hoewel die swangerskap goed verloop het, is klein Alexis, of Junior soos pa Alexis Ohanian haar noem, met 'n noodkeisersnee in die wêreld gebring. Dokters was bekommerd omdat haar hart te stadig geklop het, het Serena aan Vogue verduidelik.

Die volgende dag in die hospitaal het Serena skielik gesukkel om asem te kry. Sy het geweet iets is fout. Sy wou nie haar ma, Oracene Price, wat langs haar bed was, ontstel nie en is gang toe om 'n verpleegster nader te roep. Die tennisster sukkel met bloedklonte, waarvoor sy elke dag bloedverdunners gebruik. Die medikasie is egter ná haar keisersnee gestaak sodat die wond vinniger kon genees. 

'n CT-skandering het 'n paar klein bloedklonte in haar longe uitgewys. Sy is dadelik teruggesit op haar medikasie, maar omdat sy so baie gehoes het, het die wond oopgeskeur. Ná nog twee operasies kon die nuwe ma uiteindelik ná 'n week saam met haar dogtertjie huis toe gaan. Tuis was sy so oorweldig dat sy ses weke lank skaars uit die bed kon kom. Gelukkig het haar man ingespring en gehelp. 

"Niemand praat oor die laagtepunte van ma-wees nie," het sy aan Vogue gesê. "Die ongelooflike moedeloosheid elke keer as die baba huil ... Of dan raak ek kwaad oor die huilery, en weer huilerig oor ek kwaad was. En dan skuldig. Hoekom voel ek so hartseer as ek 'n pragtige babatjie het?"

Maar deesdae geniet sy haar dogtertjie. En nou het die twee saam op die voorblad van Vogue verskyn.

Kyk net die pragtige foto's:

FOTO Instagram / @vogue
FOTO Instagram / @vogue