Shaleen Surtie-Richards:

Na die komediant Casper de Vries se huis in Johannesburg - dís waarheen Shaleen se "voetjies", soos sy na hulle verwys, haar vanjaar geneem het. "Met my gekettingde enkeltjies en tone vol ringe is ek sy huis in. Dit was die beste paadjie ooit. Hy doen die regie vir my eenvrouvertoning As ek maar geweet het. Alles het net so reg uitgewerk dat ons weer by mekaar uitgekom het. Ons ken mekaar al van doerietyd toe ons jonk en beautiful was. Ek voel vir hom soos 'n ma.''

Shaleen het haar voete vanjaar bederf deur dertien kilogram te verloor.
"Dis 'n ou verligting vir hierdie voetjies. Man, ek doen dit nie meer vir die figure nie,maar vir die gesondheid. Ek het diabetes en ek het vroeër vanjaar so 'n bietjie van 'n scare gehad met my suiker. Ek het die gewig verloor met die Here se hulp. Ek voel so goed. Maar as ek lus is vir 'n stuk koek, dan eet ek hom. Of 'n roomys. Ek voel nie meer skuldig nie. Ek doen dit en kry klaar."

Danksy Martha Engelbrecht, haar getroue helper, word haar voete se hakke ook elke aand met Zam-Buk-salf ingevryf."Diabetes maak jou hakke hard, maar my´ voete is doeksag. Ek laat ook een keer per maand 'n pedi- en 'n manikuur doen."

Shaleen is filosofies oor haar voetspore.
"'n Mens trap die spore wat na jou kant toe kom en is gelukkig as jy reg trap.Die wêreld staan eenkant toe vir 'n mens wat weet waarnatoe hy gaan. Ek is nou 55 en ek wil nog act tot ek nie meer my woorde kan onthou nie."