Dit gaan beter met Lucas Maree sedert hy Vrydag in die Rosepark Hospitaal in Bloemfontein opgeneem is met 'n bloedklont in die been. Volgens sy vrou, Ilse, is dit waarskynlik 'n gevolg van die chemoterapie wat hy vir sy verspreide kanker gekry het.

"Die terapie beskadig die limfkliere en dit kon die klont veroorsaak het."

Lucas sal waarskynlik nog ses maande op 'n bloedverdunningsmedikasie moet bly. Hy dra ook chirurgiese kouse.

"Hy kort nog net die suspenders en hoë hakke! Hy voel darem uiteindelik weer mens," spot Ilse.

Uit sy hospitaalbed spot hy saam.

"Ek soek nou so 'n kous om my hele lyf te laat mooi lyk." Dit is 'n week met gemengde gevoelens vir die siek sanger. Een van sy beste vriende, die fotograaf Paul Alberts, is Donderdag aan kanker oorlede.

Die goeie nuus is dat die CD wat Lucas se vriende, waaronder Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Dozi en Danie Niehaus saam opgeneem het om geld vir sy mediese onkoste te betaal, reeds binne 2 weke op RSG se top-20 is. Een uit 'n miljoen is by sommige winkels reeds uitverkoop.

"Ek huil elke keer as ek dink wat my vriende vir my gedoen het. Elkeen van die snitte is vir my ongelooflik," sê ''n aangedane Lucas. Hy het twee weke gelede siek begin voel nadat hy saam met die Internasionale groep Magna Carta in die Aasvoëlteater in Bloemfontein opgetree het.

"Ek is 'n bewonderaar van die groep, en veral Chris Simpson, van 1969 af en dit was 'n lewensdroom om saam met hulle op te tree. Dis aan Chris se invloed te danke dat ek met woorde prentjies kan teken."

Lucas se been het na die optrede begin swel en 'n bloedklont is uiteindelik gediagnoseer.

"Maar dit gaan eintlik baie goed met my. Ek weet net nie hoe lank ek so stil sal kan lê nie. Stuur tog drukkies en soentjies vir almal wat aan my dink."