Armand Aucamp het as akteur naam gemaak in Ballade vir ’n Enkeling en Krotoa asook die TV-reeks Die Boekklub. Met sy donker oë en hare word hy dikwels SA se James Bond genoem. En hy’s nie skaam om sy gespierde lyf vir sy meer as 25 000 Instagram-aanhangers te wys nie.

Hy het gister op Instagram verklap dat hy binnekort sy eie kookboek uitbring en aanhangers se hulp gevra om ’n voorblad te kies. Een van die opsies is ’n foto waar die aantreklike Armand met slegs ’n voorskoot en kookgerei staan.

Die boek word deur Lapa uitgegee en die resepte is vir gesonde banting-vriendelike kos.

Soos wat die foto en tema van die boek getuig, is Armand baie gesondheidsbewus. Hy is volg al die afgelope vier jaar ’n keto-eetplan wat hoog is in vet en proteïene en laag in koolhidrate.

“Ek dink jou dieet is die belangrikste faktor om jou vel te bou, herstel en te voed. Ek sal nooit weer kan terugkeer na die ‘standaard’-manier van eet nie. [Die keto-eetplan] is die beste ding wat ek nog vir my vel en lyf kon doen,” het Armand onlangs aan SARIE vertel.

Volgens Armand is die keto-eetplan baie soos banting, jy eet net nog minder koolhidrate.

“Ek was voorheen altyd aan’t knibbel. Sesuur soggens rasend honger wakker geword, hawermoutpap gemaak, gestort en dan die dag aangedurf met ’n kospakkie, ryskoekies en sulke goed. En twee uur later is dit opgeëet en my maag skreeu weer. Nie meer nie. Ek hou van treats, brode, muffins, sulke goeters. Maar nou bak ek my eie omdat jy alternatiewe bestanddele moet gebruik.”

Ons hoop om binnekort van dié gesonde lekkernye in die kookboek te ontdek.