Die sanger Jannie Moolman, wat Sondagoggend vroeg in ‘n trauma-eenheid van ‘n Johannesburgse hospitaal opgeneem is, se toestand is steeds ernstig, maar stabiel.

Hy het veelvuldige frakture aan sy wigbeen (been agter die neusholte onderaan die skedel) neusbene, bo-kaak asook sy wangbeen. Sy linkerhand is ook beseer en reeds geopereer.

Hy word in ’n ge-induseerde koma gehou en weer Donderdag (môre) ge-opereer.

Die voorval het Saterdagaand omstreeks 23h00 by ‘n restaurant in die Hartebeespoortdam-omgewing plaasgevind. Die oorsaak van sy beserings is steeds onduidelik, maar vroeëre berigte dat hy van ‘n dak af geval het, is hoogs onwaarskynlik gegewe sy beserings. Hy is alleen buite die restaurant aangetref deur ‘n sekuriteitswag. Die voorval word vir moontlike verdere optrede ondersoek. Sy vriendin Melissa-Jo Sharp, asook familielede van Moolman, is bykans deurgaans by sy bed. Hulle het waardering uitgespreek vir die wense van beterskap wat van ondersteuners en vanuit die vermaaklikheidsbedryf ontvang word. Volgens Huisgenoot was die rampspartytjie vir Danie Opperman. Hy is die sanger Dozi se broerskind en die neef van Jannie se meisie, Melissa-Jo Sharp.

Glaskasteel  Kommunikasie is aangestel om alle media-navare te hanteer.