Sandra Bullock (49) se lyf lyk sterk en sexy in haar nuwe rol as dr. Ryan Stone in die trefferfliek, Gravity, een van dié jaar se moet-sien-flieks. Sy speel 'n mediese ingenieur wat saam met George Clooney (Matt Kowalski), 'n ruimtevaarder, ná 'n ongeluk in die ruimte dwaal en moet oorleef. Hoewel sy byna heeltyd in 'n ruimtepak rondswerf, is daar tonele waarin sy lyf wys.

"Gravity" - Red Carpet Arrivals: 57th BFI London Film Festival

Maklik was dit nie!

Vir Sandra om die illusie te skep dat sy in 'n vakuum sweef, moes sy haar lyf tot sy uiterste beproef. Sy moes aan 'n harnas met kabels sweef, en dit het hoë-impak-oefening geverg. berig Shape.com.

"Ek het my lyf tot die uiterste beproef. Ek het geweet ek moet kan doen wat die regisseur, , van my vra, so daar het nie 'n dag verbygegaan sonder dat ons geoefen het nie," het Sandra by die Venesiese filmfees se nuuskonferensie gesê.

Sandra het in 'n vorige onderhoud met Vogue gesê dat sy graag Pilates en skopboks doen. Sy oefen ook met gewigte, en ry graag fiets.

Dans

Sandra het reeds vóór die verfilming van Gravity veral dans-oefening by haar fiksheidsghoeroe Simone de la Rue gedoen. En toe die span begin verfilm, sou sy selfs in die tye wanneer die ateljee nog kameras en beligting opstel, dans-oefening doen.

"Dans is 'n die ideale dissipline as jy jou koördinasie, soepelheid en spierdefinisie wil bevorder. Dans het vir Sandra die liggaamsbeheer gegee wat sy nodig gehad het om dié film te doen," vertel Juliette Cheveley, een van Sandra se dubbelgangers in Gravity.

Klik by Shape.com vir die Simone de la Rue-oefenprogram

Het jy geweet?

Sandra het baie van die tonele alleen in 'n isolasie-tenk verfilm, en sy het erken dat sy by tye depressief geraak het.

SARIE.com-resensie van Gravity (Lou-Ann Stone)

"Haal net asem, haal net diep asem," prewel ek vir Sandra met my 3D-bril op in die fliek. Gravity slaan letterlik jou asem weg, want dr. Ryan Stone (Sandra se karakter) se suurstoftoevoer raak al hoe minder en sy dryf iewers tussen die sterre en Suid-Amerika. As fliekganger is jou senuwees gedaan, want waar is George Clooney (Matt Kowalski) nou, hoekom red hy haar nie net nie ...? Sandra se karakter gaan deur 'n transformasie en die emosionele reis strek verder as wat die oog kan sien.

Ons onthou vir Sandra as die heldin in die aksiebelaaide Speed, vir daai mooi bene in Miss Congeniality, as Oscar-wenner vir The Blindside, as 'n alternatiewe polisievrou in The Heat, en nou vir haar waaghalsige avontuur in Gravity. Die vele gesigte van Bullock, die vele gesigte van Hollywood.

Al hou jy nie van Sandra nie, al hou jy dalk net van George, al kry jy hoogtevrees en al is Apollo 13 die laaste ruimtefliek wat jy ooit gekyk het, want jy hou nie van Hollywood-eindes nie, koop kaartjies vir Gravity. Dit is 'n maagdraai-avontuur met 'n hart.