Seth MacFarlane (vervaardiger van Family Guy) en die aktrise Emma Stone (Easy A en The Help) het die benoemings by die Samuel Goldwyn Teater in Beverly Hills bekend gemaak.

Lincoln het onder meer die benoeming gekry vir Beste Film, Beste Akteur (Daniel Day-Lewis), Beste Ondersteunende Akteur (Tommy Lee Jones), Beste Ondersteunende Aktrise (Sally Field) en Beste Regie (Steven Spielberg).

Kort op sy hakke is Life of Pi met 11 benoemings, waaronder Beste Film en Beste Regie (Ang Lee).

Die musiekblyspel, Les Misérables, staan ook ’n kans om die gesogte Oscar-titel te verwerf. Beide Hugh Jackman en Anne Hathaway is benoem vir hul toneelspel hierin.  

Die buiteperd in dié jaar se benoemings vir Beste Film is Beasts of the Southern Wild. Quvenzhané Wallis is benoem vir Beste Aktrise en is die jongste aktrise wat nóg vir dié kategorie benoem is. Sy is maar 9 jaar oud.

In dieselfde kategorie is Emmanuelle Riva benoem, wat weer die oudste aktrise is wat al benoem is. Op 85 is sy benoem vir haar rol in die Frans-talige film, Amour, wat ook benoem is vir Beste Film.

Wallis en Riva ding mee teen Naomi Watts (The Impossible), Jessica Chastain (Zero Dark Thirty) en Jennifer Lawrence (Silver Linings Playbook).

Bradley Cooper is vir Beste Akteur benoem vir sy rol in Silver Linings Playbook, wat ook meeding in die Beste Film-kategorie. Joacquin Phoenix en Denzel Washington is ook benoem. Die ander films wat benoem is vir Beste Film is Ben Affleck se Argo, Zero Dark Thirty (Kathryn Bigelow)en Django Unchained (Quentin Tarantino). Die dokumentêr fliek, Searching for Sugar Man, is ook benoem. Groot dele daarvan is in Suid-Afrika verfilm en volg twee Suid-Afrikaanse aanhangers van die sanger Rodriguez in hul soeke na hul musiekheld.

* Klik vir die volle lys Oscar-benoemings.

WATTER FLIEK, DINK JY, GAAN AS DIE BESTE FLIEK VAN DIE JAAR AANGEWYS WORD?