Die 2 ure vóór haar burgerlike troue met Prins Albert van Monaco was gevul met opwinding toe Vogue dié eksklusiewe foto's van haar en haar naaste vriendinne aan die gereedmaak in die Hermitage Hotel in Monte Carlo geskiet het. Daar is sjampanje gedrink en gegiggel, amper soos met 'n oorslaappartytjie.

“Dis so mooi dag en die hele land is baie opgewonde,” het Charlene aan Vogue gesê.

Oor haar uitrusting wat sy saam met Chanel-ontwerper, Karl Lagerfeld,  ontwerp het, het sy gesê: “Ons het die kleur gekies om by my oë te pas. Dit is vroulik en pas by die tradisies van burgerlike seremonies.” Dit sal waarskynlik van nou af as 'Charlene Blue' bekend staan.

Haar hare is deur stilis, Stephan Alban, gedoen en Pablo Ardizzone het haar grimering gedoen.

Charlene het selfs kommentaar gelewer oor die gerugte wat die rondte doen dat prins Albert nóg buite-egtelike kinders het. “Ek was vir 15 jaar lank ’n kompeterende swemmer. Elke oggend het ek opgestaan en in ’n yskoue swembad geduik, hierdie situasie is nie vir my meer van ’n uitdaging as dit nie.”

Sy het verder gegaan deur te sê dit is jammer dat die stories juis die week van die troue moes uitkom. Maar sy besef dit is mense wat hierdie gelukkige dag vir haar en prins Albert wil bederf.

Klik hier vir nog foto's deur Vogue.