Sowat 200 gaste, waaronder internasionale koninklikes, gaan na verwagting op 7 Julie die onthaal by die Oyster Box, net Oos van Durban, bywoon, berig die Sunday Times.

Maar die paartjie kom nie net om fees te vier nie. Hulle gaan ook ’n vergadering van die Internasionale Olimpiese Komitee in Durban bywoon. Die gasheer-stad van die 2018 Winter Olimpiese Spele sal daar aangekondig word.

Charlene en die prins is albei voormalige Olimpiese atlete. Sy het SA verteenwoordig as ’n rugslag-swemmer en hy was in Monaco se nasionale bobslee-span.

Die twee dae lange troue in Monaco sal bestaan uit vier seremonies.

Die burgerlike seremonie

Dit vind die dag voor die troue plaas. By dié geleentheid lê die paartjie hulle troubeloftes aan mekaar af en daarna verskyn hulle op die Salon des Glaces-balkon om die koninklike aanhangers te groet. Hierna woon hulle ’n buffet-ete van Mediterreense en Suid-Afrikaanse geregte by.

Die godsdienstige seremonie

Die aartsbiskop van Monaco, Bernard Barsi, verbind die paartjie in die eg.

Die optog

Charlene is nou die kroonprinses van Monaco. Sy en haar man sal saam die paleis verlaat en haar ruiker in die Sainte-Dévote-kerk gaan neerlê.

Die formele bal

Later die aand sal hulle en hul gaste na die Monte Carlo Operahuis gaan vir ’n formele onthaal. Dit sal om middernag afgesluit word met ’n vuurwerkvertoning.

Die 2009 Idols-wenner, Jason Hartman, gaan by dié geleentheid optree, berig die Cape Argus. Hy vertrek Dinsdag, 24 Mei, uit SA en sal vir die 7 weke voor die troue in Monaco toer en mediaverpligtinge nakom.