Vir lank was dit net Kate, die hertogin van Cambridge, op ons lippe. Maar nou is daar ’n ander koninklike wat ons aandag trek - die stylvolle prinses Letizia Ortiz van Spanje.

Die Spaanse koning, Juan Carlos, het onlangs aangekondig dat hy gaan abdikeer en sy seun, prins Felipe, is die troonopvolger. Daar word verwag dat Felipe op 18 Junie ingesweer sal word as die koning van Spanje.

Nou is die aandag op Felipe en sy voormalige joernalis-vrou, Letizia. Hoewel Spanjaarde nie so monargie-mal soos sekere Britte is nie, het Letizia vinnig een van dié land se lieflinge geword.

Letizia

Felipe en Letizia het mekaar ontmoet in 2002 toe Letizia as TV-joernalis gewerk het. Hulle is twee jaar daarna getroud, maar was kort daarna in kontroversie gedompel toe dit aan die lig gekom het dat Letizia al vantevore getroud was.

Maar vinnig is dit vergete en baie skryf Felipe se goeie reputasie in die land aan Letizia  toe. Saam het dié paartjie twee kinders, Leonor (8) en Sofia (7). Dié twee is net so mooi soos hul ma.

Hello!het dié foto van die prinses se pragtige gesin gedeel.

 Letizia en klein Sofia (7) sit op die bank en rus terwyl pa Felipe en Leonor (8) speel FOTO: Hello! Letizia en klein Sofia (7) sit op die bank en rus terwyl pa Felipe en Leonor (8) speel
FOTO: Hello!

Klik hier vir nóg foto's van Letizia en Felipe se gesin en hul huis

Middelklas-koningin

Met haar nuwe rol as koningin beweer publikasies soos Hello! dat sy internasionaal net so gewild soos Kate Middleton sal word.

Soos Kate is Letizia ook nie van koninklike afkoms nie. Sy het in die Spaanse dorp Asturias grootgeword waar haar pa ’n joernalis en haar ma ’n verpleegster was, berig The Telegraph.

Letizia is bekend vir haar elegante, stylkeuses en is gereeld, soos Kate, op Europese tydskrifte se bes-geklede lyste.

Een van haar gunsteling-ontwerpers is die Spaanse ontwerper Felipe Varela. Letizia trek sy ontwerpe na die meeste van haar formele geleenthede aan en het dit selfs gedra by die troue van prins William en Kate.

Soortgelyk aan William en Kate, is dié Spaanse paartjie ook plat op die aarde. Volgens Hello! sal Letizia en Felipe nie na die koninklike Zarzuela-paleis in Madrid trek ná sy inhuldiging as koning nie, maar eerder in hul huidige tuiste aanbly. Letizia word reeds die middelklas-koningin genoem.

Letizia en Felipe op hul troudag Letizia en Felipe op hul troudag

Nóg nuus oor koninklikes op SARIE.com

Bronne: Hello!, The Telegraph en New York Daily News