Angus het in 1992, twee jaar nadat Nelson Mandela vrygelaat is en twee jaar voor die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika, agttien 7-jariges gedokumenteer. Hy volg die kinders dan elke sewe jaar en kyk hoe dit met hulle gaan en hoe hulle Suid-Afrika ervaar. Die eerste uitsending was getitel 7UP, daarna is 14UP en 21UP verfilm en vanjaar is 28UP voltooi.

Die dokumentêr is gemotiveer deur die aanhaling: “Gee my ’n kind totdat hy sewe is, en ek gee vir jou die man.” Hierin word nie net gekyk hoe die kinders ontwikkel het nie, maar ook hoe hulle in Suid-Afrika se transformerende sosiale omgewing aanpas.

Angus sê op 7-jarige ouderdom het die kinders die wêreld vanuit ’n apartheidsperspektief gesien. “Patrick, wat in ’n welvarende voorstad gebly het, het niks van Thembisile se lewe in die informele nedersetting geweet nie.” Sewe jaar later was hulle tieners in die nuwe Suid-Afrika. “Op 21 kon die meeste van hulle geleenthede aangryp wat nie vir hul ouers beskore was nie, maar toe was dit die groot geveg met MIV/vigs – en nie almal van hulle het oorleef nie.” Nou is dié kinders 28-jarige volwassenes.

Willem as 7-jarige op hul plaas FOTO: YouTube Willem as 7-jarige op hul plaas in die Noord-Transvaal FOTO: YouTube

Rebecca Davis van die aanlyn-koerant Daily Maverick het ’n voorsmakie van 28UP gekry. Sy skryf oor Willem spesifiek:

Die 7-jarige Willem word groot op ’n plaas in die Noord-Transvaal. Hy gaan na sy voormalige slegs-blanke-skool toe en vir die eerste keer is daar swart kinders in sy klas. Hy sê hulle sal nie tot eerste pouse kan uithou nie. Waarom? “Want ons sal hulle slaan,” sê hy met ’n glimlag. Sewe jaar later is die 14-jarige Willem skaam hieroor. “Ek was dom,” sê hy. Hy beskryf sy swart klasmaats as “baie goeie mense”. Op 21 studeer Willem aan die Universiteit van Johannesburg met ’n sportbeurs en op 28 is hy die wêreldbekende rugbyspeler Willem Alberts.

Al die kinders se paadjies het anders verloop in dié tyd. Een van die swart seuntjies wat saam met Willem in die klas was, is byvoorbeeld deur van sy vriende verwerp omdat hy na ’n “wit skool” gegaan het. Ander kinders het suksesverhale om te vertel, en ander se omstandighede was net te veel om te oorkom.

Die vierde deel van die fassinerede dokumentêre reeks 28UP word 3 Januarie 2014 op Al Jazeera (DStv-kanaal 406) uitgesaai. Die ander dele (7UP, 14Up en 21UP) word in Desember op dié kanaal herhaal.

Kyk hier na die lokprent van 28UP:

Bronne: Filmcontact en Daily Maverick