Jerry Springer

Dié geselsprogram-aanbeider, regte naam Gerald Springer, was eers 'n gerespekteerde politikus. Hy het in die regte studeer en was deel van Robert F. Kennedy se presidensiële-veldtog. Op 33-jarige ouderdom is hy as burgemeester van Cincinnati verkies. Nadat hy in 1982 ni tot goewerneur verkies is nie, het hy besluit om 'n nuusleser te word. Hier het hy  sy slagspreuk ‘Take care of yourself and each other’, begin. Hy sluit nou nog The Jerry Springer Show met dít af.

Die eerste episode van The Jerry Springer Show het in 1991 die lig gesien. Dit was aanvanklik 'n forum vir politieke debat. Die kykersgetalle was egter laag en vinnig het die onderwerp van die program verander. Nou is daar byna in elke insetsel 'n vuisgeveg - Jerry spot dít is 'n bewys dat sy program nie so ver van die politiek afgedwaal het nie ...

Victoria Beckham

Sy het begin as Vicky Adams – die Spice Girl wat agter in die groep gestaan het, haar lippe baie getuit het en nie baie gesing het nie.

Maar Posh Spice het haarself getransformeer in ‘n mode-ontwerper en stylikoon. Die verandering het begin toe sy en die sokkerster David Beckham begin uitgaan het en hulle gereeld in die poniekoerante verskyn het. Hulle het tabloid-koninlikes geword en hul huis is Beckingham Palace gedoop.

In 2000 het sy haar eerste aanraking met die haute couture-wêreld gehad toe sy by die Londen-modeweek as model geloop het. Daarna het sy begin denims ontwerp. Nou het sy haar eie reeks wat sonbrille en handsakke insluit. In 2011 het sy die prys gekry vir die beste ontwerpers-handelsmerk by die Britse mode-toekennings.

P. Diddy

Die voormalige kêrel van Jennifer Lopez het sy loopbaan aan die besigheidskant van die musiekbedryf begin met sy platemaatskappy Bad Boy Records. Vandaar het hy agter die mikrofoon ingeskuif en homself Puff Daddy begin noem. Nadat sy sangmaat oorlede is het hy weer sy naam verander. Hierdie keer na P. Diddy. Dit was ook in hierdie tyd wat hy met Jennifer Lopez (toe bekend as J Lo) begin uitgaan het.

Nou is hy modeontwerper - sy klerereeks staan bekend as Sean John - en ook 'n akteur. Nou op 43-jarige ouderdom, staan hy net bekend as Diddy.

Rita Hayworth

Margaret Carmen Cansino het ‘n Spaanse pa gehad en was opgelei in Latynse danse. Weens haar Latyns-Amerikaanse voorkoms het sy eers net rolle in Meksikaanse films gekry. Daarna het sy die eksotiese verleidster in Amerikaanse films gespeel. Mense het haar egter oortuig dat haar Mediterreense voorkoms haar loopbaan beperk. Sy het haar donkerbruin hare rooibruin gekleur, haar haarlyn met behulp van elektrolise meer as 2 cm gelig, en haar vel ligter laat maak. Sy het ook haar naam na Rita Hayworth verander.

‘n Ster is gebore en Rita Hayworth het een van Hollywood se grootste sterre van die veertigerjare geword.

George Foreman

George is vir die jonger geslag slegs bekend as die “lean mean grilling machine”-man. Maar George het in die sewentigerjare bekendheid verwerf as Big George - 'n swaargewig-boks­kampioen voordat hy teen Muhammad Ali verloor het.

Twee dekades later het hy as 45-jarige bokser die oudste man geword om dié titel te wen. Na sy aftrede het hy die gesig van Russll Hobbs se elektroniese rooster geword. Daar is meer as 100 miljoen produkte wêreldwyd verkoop - en die inkomste hiervan is glo baie meer as sy inkomste toe hy nog 'n bokser was. 

En dié sterre was onderwysers

Die komediant en akteur Billy Crystal

Sheryl Crow, liedjieskywer en sangeres

Tony Danza, Tony Micelli van Who’s the Boss. Hy was ook 'n bokser.

Die Oscar-benoemde akteur Hugh Jackman

Stephen King, riller-skrywer

President Barack Obama was ‘n dosent by die Universiteit van Chicago

Mr. T van The A-Team was ‘n L.O.-onderwyser

Sylvester Stalone was ook ‘n L.O.-onnie

Jon Hamm, die aantreklike Don Draper van Mad Men 

Die sanger Sting van The Police

Bronne: The Guardian en Voices