"Sopas in die Kyalami Kentucky DriveThru gesien hoe hulle almal binne aanhou met AK's. Die seuns en Suné was saam in die kar. Vaal geskrik." sarie.com het vanoggend met hom gepraat: Hoe voel jy vanoggend oor die insident gisteraand? Ek voel nogal omgekrap, want ons is grotendeels nog nie so erg geraak deur misdaad hier in die Kyalami-omgewing waar ons woon nie. Ek het my kinders na die Kyalami Kentucky geneem vir wegneem kos en ons was in die deurritlaan. Net na ek by die venstertjie betaal het, het ek gesien hoe vyf ouens met AK's die winkel ingestorm het en almal beveel het om op die grond te lê en hulle beroof. Ek het onmiddellik effe vorentoe getrek en die kinders gesê om plat te lê. Ek het vir die mense agter my beduie om bietjie agtertoe te trek. Maar in daardie kort rukkie wat die rooftog gebeur het was dit doodstil, nie 'n geluid het jy gehoor nie, geen skote is gevuur nie. Die arme werkers is natuurlik die grootste slagoffers. Ek het na die insident my selfoon deur die venstertjie gegee dat hulle darem iemand kon laat weet wat gebeur het. Is jou kinders geraak deur die insident? Ek hoop nie so nie, ek dink nie hulle het iets gesien nie, want ek het hulle onmiddellik laat platlê. Maar hulle het nie goed geslaap gisteraand nie, veral die jongste enetjie." Mens is vol planne om die rowers iets aan te doen, maar as jy jou kinders by jou het, is mens effe minder braaf. Suné het my ook die heeltyd gemaan om te onthou van die kinders, want ek het so entjie agter die rowers aangery in die hoop dat ons by polisie sou verbyry. Helaas. Ons het ook die polisie gebel, maar ook geen antwoord daar gekry nie. Hoe voel jy oor misdaad in die land? Wat gebeur het, versterk my planne om meer te doen om misdaad te bekamp. Ek dink die Shout-idee waarvan ek deel is, is ‘n baie goeie ding teen geweld. Dis tyd dat ons almal die regering vasvat oor geweld. My planne word net al hoe sterker. * Volg Steve op Twitter by http://twitter.com/steve_hofmeyr of besoek Steve se webtuiste.