Steve se karakter, Brandt van den Bergh, het in 2007 sy verskyning gemaak as die Hillside Times se waarnemende redakteur. En nes die vorige keer speel hy weer met Paula (Diaan Lawrenson) se emosies. “Brandt bevind hom in ’n gevaarlike situasie en kom soek hulp by Paula,” vertel Liby. “Paula voel verplig om hom te help en al die ou gevoelens tussen hulle vlam weer op.”

Kykers gaan egter tot Augustus moet wag om te sien watter invloed dit op haar gevoelens vir Altus gaan hê, want Steve se storielyn word eers van 18 – 28 Augustus uitgesaai.

Steve het gister op sy Facebook-blad geskryf: “Ek is terug by 7de Laan! Voel soos ’n reünie van ou kollegas en pelle ... Ek speel weereens nié die Rooms-Katolieke priester nie, liewer die Foxterier-biltong in die Strawberry Milkshake. My tonele sal Augustus begin draai! Heerlik om soveel ou vrinne weer te sien.”