"Ek’s baie trots op dié storie," het Steve op sy Facebook-blad gesê oor sy sesde boek en derde roman.
Dis ’n "hoogs oorspronklike, opwindende en soms grieselrige roman," sê Zebra Press, die uitgewer. Dit het al die elemente van ’n spanningsverhaal, sê hulle – "misdaad en moord, geld, seks, liefde en selfmoord".

Steve se vorige twee romans is Vier briewe vir Jan Ellis (2010) en Die verste uur (2011). (Klik op die skakels om die boeke by Kalahari.com te bestel)

Hy het op sy Facebook-blad gesê sy Facebook-aanhangers sal in die volgende paar weke grepe uit die boek op dié blad kan lees.

Hier is Zebra Press se opsomming van die boek:

In die oomblik voor hy homself om die lewe bring, hersien Desmond die pad wat kon lei tot hier. Om homself en sy lot te verander moes Danie Fourie meer doen as ontsnap uit ’n tronk. Hy moes uitstyg en Desmond Faure word, homself herskep ver weg van Krugersdorp. Hy moes sy siel verkoop, iemand ompraat, sy verlede verbloem, sy geluk maak swaai soos Pretty Woman. Hy moes ’n ander kitaar leer slaan.

Country song for ever lost its soul, when the guitar player turned to rock ’n roll ...

Maar in die donker kantlyn van menslike gedrag val gewone reëls gou weg. Dit kos ’n kenner om deur die mooi afwerking te sien. Probleem is, soveel sonde laat homself nie sommerso afskud nie. En Desmond weet hy is steeds Danie, maak nie saak wat nie. Almal aanvaar sy nuwe persona. Almal hou van hom. Hy raak selfs verlief. Toe ontplof alles.