Vir sarie.com

"Ek onthou hoe ek oom Al speels gekasty het oor hy nie tot my hulp gesnel het in ’n film waar Leon Schuster my reg voor hom en Sandra Prinsloo geklap het op ’n verhoog. Leon was slim. Hy het selfs my kitaar oor gebou en die begin stukkend geslaan. Hy moes weet dat dit my oor die rand sou stuur. Dit het. Maar tydens die film swaai die kamera weg na Al Debbo se reaksie terwyl ek en Leon in die plat verjaardagkoek op die verhoog spartel. En al wat oom Al kon uitkry was: “Maar wat van die kitaar?”

"Ek het Al Debbo die eerste keer gesien in Pens-en-Pootjies, maar eers dertig jaar later ontmoet met my Toeka-projek. Aand na aand het sesduisend mense opgespring as die reeds tingerige ikoon daar agter op die stretcher orent kom, sy suurstof kannetjie neersit, sy vilthoedjie opsit en uit uitstap op die groot verhoog en Hasie sing. Oom Al was skerp maar nooit grootbek nie. My hoogtepunt was hoe dankbaar so ’n legende was vir hoeveel jare hom geskenk is om ander te vermaak en laat skaterlag. Hy het elke aand kom dankie sê. En elke aand het hom gesê hy moet ophou daarmee, dis ons wat hom skuld."

Uittreksel uit Steve blog op Jacarandafm.com:

"Sy generasie sou films gemaak het vir ‘n bier en middagete."

"Oom Al is op 22 Junie 1924 gebore, hy was een jaar ouer as Dawie Couzyn en 20 jaar jonger as Dawid de Lange. Alec Debbo het meer as sestig jaar gelede as pieringoog grapmaker die plaaslike silwerdoek betree. Baanbrekerswerk. Sy eerste film was maar die Afrikaanse taal se vierde film. As jy Frederik Burgers as Hardy sien, was oom Al onse Laurel. Of Abbott and Costello...

"Ons smartlap volkie kan soms vreeslik wroeg, maar een man het ons kollektiewe hanglip vir dekades lank oor ons ore kom trek. 'n Volk het ten spyt homself, geskaterlag. Oom Al Debbo self het moontlik een van sy grappies oor homself onderskat toe hy sê: "Ek is beter as 'n dokter as ek optree." Hy weet nie hoe nodig ons daardie terapie gehad het nie. Hy het letterlik vreugde na miljoene gebring. Soms in skerp grappies, gereeld sonder woorde, meesal net deur sy naam te noem.

"Toe ek my afspraak op 13 Julie 2011 met oom Al met een uur mis, was hy reeds een uur oorlede. Daar het ek gesien dat niks wat ons toe sou sê, onmiddellike troos sal bring vir Azar en Alec en Ansa en die res van die familie nie. Alec het my gelei na sy kamer in die Medi-kliniek. Ek het die hand waarmee ek hom altyd gesalueer het op sy koue voorkop geplaas en saggies dankie gesê namens 'n land en sy mense wat hom nooit sal vergeet nie.

"Eintlik was oom Al al oud en broos tydens die verfilming van Pampoen (met Miems de Bruyn) en die Toeka-toer. Elke aand het ons hom toegedraai in komberse, suurstof gegee en op 'n bank maak lê, en elke aand as ek sing "Hasie, hoekom is jou stert so kort..." spring hy op soos Lasarus uit die dood, ruk sy tandeborsel uit, gooi sy vilt hoedjie op, kam sy ooghare terug, kom staan langs my en word Michael Jackson. Sy stamina op 'n reeds gevorderde ouderdom, was aanskoulik. Sy passie 'n inspirasie. Twintig minute nadat ek by die hospitaal weg is om te sing op 'n huldekonsert vir nog 'n afgestorwe kollega het ek en Amanda Strydom 'n sagte woordjie in die gange van die Bloemfonteinse Sand Du Plessis gewissel. Ons was eens hieroor. Sekere kunstenaars doen. Sekere kunstenaars is. Al Debbo was laasgenoemde."

Lees die volledige blog by Jacarandafm.com