Op 9 Augustus word die derde fliek uit die pen van Ivan Botha en Donnalee Roberts vrygestel: Stroomop. Die storie handel oor vyf vroue wat die Oranjerivier aan durf, elk met hul eie storie.

Vandag ontmoet ons die karakter Adrie wat deur die aktrise Chanelle de Jager gespeel word.

Adrie het die wêreld se potensiaal, maar sy verdrink in die stryd van ma-wees vir drie seuntjies, vier as sy haar man bytel. Sy skeep haarself af terwyl sy elke dag se take gedoen probeer kry. Iewers langs die pad het sy haar innerlike krag en vreugde verruil vir besig-wees. Adrie sien nie haar eie mooi raak nie en juis daarom ook nie hoe mooi haar man haar vind nie.

Chanelle se stukkie lewensadvies aan Adrie: "Adrie, vroumens, jy doen fine. Elke mamma het al 'n oomblik beleef dat hulle dink hulle is nie goed genoeg nie. Elke dag is 'n struggle, maar jy doen wat die beste is en doen dit goed."