Op 9 Augustus word die derde fliek uit die pen van Ivan Botha en Donnalee Roberts vrygestel: Stroomop. Die storie handel oor vyf vroue wat die Oranjerivier aan durf, elk met hul eie storie.

Vandag ontmoet ons die karakter dr. Lana Marais, wat deur die aktrise Donnalee Roberts gespeel word.

Lana is 'n dinamiese dokter met ‘n passie vir haar werk – soms ten koste van haarself. Sy is ook 'n uitstekende chirurg wat haar hele lewe aan haar werk wy. 'n Traumatiese ervaring uit haar kinderjare bly by haar spook en haar werk is 'n soort toevlug. In elke mens ontmoet Lana net die pasiënt en nie die mens agter die siekte nie. Sy het verleer om te lééf, lief te hê en mense in haar lewe toe te laat.

Donnalee se stukkie lewensadvies aan Lana: "Partymaal moet 'n mens braaf genoeg wees om stroomop te swem om te ontdek wie jy gemaak is om te wees. Dis eers wanneer jy mense naby jou toelaat dat jy ware vriendskap kan ontdek."