Op 9 Augustus word die derde fliek uit die pen van Ivan Botha en Donnalee Roberts vrygestel: Stroomop. Die storie handel oor vyf vroue wat die Oranjerivier aan durf, elk met hul eie storie. Vandag ontmoet ons die karakter Vivan wat deur die aktrise Simoné Nortmann gespeel word.

Vivian is 'n data-analis wat byna elke stukkie skokkende statistiek oor ons land ken ... iets wat haar geneigdheid tot depressie net vererger. Haar lewensvreugde het sy reeds as kind verloor en sy vind die lewe saai. Sy maak stories op oor eksotiese vakansies en avonture. 'n Baie diep seer ná 'n liefdesteleurstelling veroorsaak dat sy haarself in iemand anders probeer verander. Sy soek aanvaarding, maar in die proses verloor sy haarself heeltemal.

Simoné se stukkie lewensadvies aan Vivian: "Moenie die lewe so ernstig opneem nie. Iewers is daar vir jou 'n plekkie in die son. Jy is nie alleen nie. Jy hóórt.”