Laurika Rauch, haar man, Chris Torr, die rugbylegende Mannetjies Roux en sy vrou, Charlotte (al die pad van die Karoo), asook die vervaardiger en bekende TV-man Johan Badenhorst was maar enkele van die bekendes wat gisteraand die bekendstelling van Stuur Groete aan Mannetjies Roux - 'n Musiekspel bygewoon het.

"Die droom om my liedjies van oor die jare in 'n musiekspel saam te snoer het in 2009 behoorlik vlerke gekry tydens 'n gesprek met Johan Badenhorst en sy vrou, Alma. Chris was onmiddellik geïnspireer en het amper dadelik begin skryf. Sedert Op Blouberg se strand, die eerste liedjie wat hy in 1988 vir my geskryf het, verras en betower hy ons steeds. Stuur Groete, 'n musiekspel wat Chris se unieke liedjies, humor en storie-verteltalent sal weerspieël, is vir my 'n natuurlike ontwikkeling. Ek kan nie wag om deel te wees van en op te tree in hierdie mylpaalproduksie nie. Daarvoor het ons die bestes in die bedryf bymekaar gemaak," het Laurika gesê.

Windpomp

Stuur Groete speel af op 'n Karooplaas . . .

'n Jong meisie besoek haar oom en tante se plaas in die Karoo. Sy is skaars 16, maar sy voel asof sy al vroeër hier was. Dan begin 'n ontdekkingsreis: sy moet uitvind wie sy werklik is en waar sy vandaan kom.

Vroeg in die verhaal kom 'n vreemdeling en sy donkie op die plaas aan. Die meisie vermoed dat daar 'n verband is tussen haar aankoms op die plaas en dié van die vreemdeling.

Soos wat die drama ontwikkel, leer ons meer verstaan van die meisie, Engela, die eksentrieke oom Frans, die agterdogtige tante Koba en die geheimsinnige Anna. Die intriges begin ontvou: Oom Frans het 'n obsessie met die legendariese drie wat Mannetjies Roux gedruk het; Tante Koba wil weet of hy werklik in Bloemfontein was toe die drie gedruk is, en die vreemdeling, Toemaar, besluit om, met behulp van sy donkie, 'n klipmuur te bou.

By meer as een geleentheid staan van die karakters by 'n oop graf . . .


Laurika se bydrae tot die Afrikaanse liedereskat beslaan reeds meer as 250 liedjies. Stuur Groete plaas haar werk in 'n opwindende nuwe milieu. Haar man, Chris Torr, 'n boorling van die Karoo, maak hierdie uniek Suid-Afrikaanse wêreld 'n sterk tema in talle van sy skeppings. Hierdie liedjies snoer hy nou saam in 'n musiekspel wat afspeel teen die agtergrond van 'n plaas in die Kamdeboo.

Die Stuur Groete-span

Laurika Rauch
Die span - Omring deur die bestes wat die tegnici en kreatiewe assistente betref: Chris, Johan, Jaci en Janine het die beste span saamgestel om reg te laat geskied aan die viering van die werk van Laurika Rauch.

Chris Torr Chris Torr: Mede-vervaardiger 

Christopher Torr is die skepper van Stuur Groete en mede-vervaardiger van die produksie. Hy is 'n Engelssprekende ekonoom van beroep. Volgens hom is die mees ingewikkelde woord wat hy in Afrikaans ken, elektrisiteit. Hy probeer altyd om eenvoud na te streef - wat dalk die rede is vir sy sukses. Chris slaag daarin om die eenvoud van die Karoo vas te vang in pragtige liedjies. Die onderliggende kompleksiteit van die semi-woestynwêreld van die Karoo word terselfdertyd subtiel belig. Stuur Groete sluit baie van Chris se musikale skeppings in. Werke van ander kunstenaars, soos dié van Ingrid Jonker, word ook gebruik.

Johan Badenhorst

Johan Badenhorst: Vervaardiger

Johan Badenhorst is 'n ervare skepper van televisiereekse. Behalwe vir Voetspore, die dokumentêre avontuurreeks waarvoor hy bekend is, was Johan ook die vervaardiger van die omvangryke dokumentêre reeks oor die ontstaan en ontwikkeling van ligte Afrikaanse musiek. Die reeks, Kom laat ons sing, die musikale reis van Laurika Rauch, is vandag steeds die mees gesaghebbende televisiereeks oor die tema. Johan het ook later bekend geraak vir die reeks In die Staatsteater, met kunstenaars soos Valiant Swart, Karen Zoid, Dozi, Amanda Strydom, Anton Goosen en talle ander. Sy dokumentêre program oor die lewe en dood van Johannes Kerkorrel het hulde gebring aan hierdie ikoon van Afrikaanse musiek.

Jaci de Villiers

Jaci de Villiers: Regisseur

Die regie van Stuur Groete word waargeneem deur Jaci de Villiers. Jaci is 'n veteraan van dramaproduksies in Suid-Afrika. Onlangs was sy verantwoordelik vir die produksie Noah of Cape Town, wat in die Baxter op die planke gebring is. Sy was ook verantwoordelik vir produksies soos Jericho en Die Groen Ghoen wat by Aardklop, die KKNK en die Oude Libertasfees opgevoer is. Een van die talle toekennings wat sy ontvang het, is die Anglo American Smeltkroesprys vir die bekroonde produksie Suig. Jaci ken die Suid-Afrikaanse teaterwese goed en weet dus hoe om slaggate te vermy. Haar ondervinding sedert die vroeë negentigerjare maak haar ideaal vir die taak.

Janine Neethling

Janine Neethling: Musiekregisseur 

Janine Neethling is verantwoordelik vir die musiekregie en is uitstekend gekwalifiseer. Sy is musiekregisseur van die extravaganza Skouspel, wat jaarliks by Sun City plaasvind, en het die regie van talle ander groot musiekproduksies in Suid-Afrika ook behartig. Sy het al geskryf en regie gedoen vir 'n verskeidenheid kunstenaars, onder wie Amanda Strydom, Die Afrika Mamas, Elzabé Zietsman, Cutt Glas, Lize Beekman, Sibongile Khumalo en Jannie Moolman, om maar net 'n paar te noem. Een van haar skeppings is die musiekblyspel Soweto Story, wat sy saam met Zwai Bala geskryf het. Verder is sy al vereer met die Vita-, die Naledi- en die Fleur du Cap-toekenning. Janine en Suid-Afrikaanse musiekteater is sinoniem met mekaar.

 
Die Atterbury-teater in Lynnwoodweg
Die Atterbury Property Group is tans besig met 'n ontwikkeling van 73 000 m² in Pretoria, Lynnwood Bridge. Hierdie uitsonderlike ontwikkeling sluit 'n Weseinde-tipe teater met 430 sitplekke in, waar die première van Stuur Groete sal plaasvind. Dis ontwerp om 'n uitsonderlike klassiekekonsertsaal te wees, maar bevat ook die ideale akoestiese ontwerpeienskappe wat hedendaagse uitvoerings en konferensies benodig.

Kaartjies?

Hierdie gaan ongetwyfeld dié produksie wees om in 2011 te sien! Dit sal landwyd op die planke wees. Kaartjieverkope open 1 Oktober 2010 by Computicket.