Twee Suid-Afrikaanse films gaan vanjaar by die gesogte Cannes Filmfees ten toon gestel word. Alhoewel dié films nie gaan meeding om die Palme d’Or-prys nie, gaan dit deur talle internasionale film-fundi’s gesien word.

Die gesogste tyd vir films by dié fees is die openings- en slotgleuf. Hierdie jaar skop Baz Luhrman se The Great Gatsby (wat die inspirasie was vir Nadia Valvekens se pragtige foto’s in die Mei-uitgawe van SARIE) die fees af. Die filmfees eindig met die Suid-Afrikaanse film Zulu waarin Orlando Bloom en Forest Whittaker speel. Die pragtige Tanya van Graan (foto bo) speel teenoor Orlando in dié film.

Hier is wat Tanya oor Orlando te sê het:

“Ek het ’n klein rol teenoor Orlando. In die tonele is dit net ek en hy wat teenoor mekaar speel. Hy is ’n gemaklike mens en baie plat op die aarde. Ons het baie tyd saam spandeer en hy gesels lekker. Die (fliek)proses self was vir my interessant en ek het baie geleer. Ek het ook gesien dat selfs groot sterre onsekerhede het en hulle ook moet cope met die druk wat op hulle is.”

Die aksie-komedie Blitz Patrollie het stof in die oë van 1 858 films geskop om ‘n plek by dié fees te kry. Dit handel oor twee konstabels (Joey Rasdien en David Kau) en al die snaakse kaskenades in die mag. Dié film draai van 10 Mei in Suid-Afrikaanse teaters.  

Die beoordelaars hierdie jaar is onder leiding van Steven Spielberg. Die paneel sluit in bekende akteurs soos Nicole Kidman en Christoph Waltz (Django Unchained). Die films wat hierdie jaar beoordeel word sluit in Only God Forgives met Ryan Gosling in die hoofrol; Behind The Candelabra wat handel oor die eksentrieke Liberace, en Inside Llewyn Davis, waarin Justin Timberlake speel.

Die Cannes Filmfees is een van die gesogstes ter wêreld. Die fees vind van 15 - 26 Mei in die hawestad Cannes aan die Franse Riviera plaas.