Die 20-jarige Dylan, wat oorspronklik van Randburg is, het Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) die Amerikaanse rekord in die 200 m-vlinderslag wat Phelps opgestel het, by sy universiteitskampioenskap in Amerika verbeter. Dylan studeer al sedert 2012 by die Universiteit van Michigan.

Volgens Beeld studeer Dylan bewegingskunde en sportkunde met ’n studiebeurs by dié universiteit.

Phelps het die rekord in 2010 by die Amerikaanse ope opgestel toe hy die 200 m-vlinderslag in 1:39:65 afgelê het. Verlede jaar het Tom Shields, nog ’n Amerikaner, dieselfde tyd by die National Collegiate Athletic Association (NCAA) geswem.

Toe Dylan Saterdag dié resies in 1:39:33 by die NCAA swem, het hy die Amerikaanse rekord én die universiteitsrekord verbeter.

“Om Michael Phelps, wat sonder twyfel die beste swemmer van alle tye is, se rekord te klop, maak ’n mens nederig," het Dylan aan Beeld gesê. Sy broer, Cameron, was self ’n nasionale swemmer en rig deesdae swem in Dubai af.

Lees Beeld se volledige artikel hier.

BRON: Beeld