Suid-Afrika kry binnekort sy eie weergawe van die Britse entrepreneur-gedrewe TV-program Dragons’ Den, berig Screen Africa.  

Die produksiemaatskappy Rapid Blue gaan met die hulp van Thinus Ferreira die eerste plaaslike televisie-weergawe van díe program vir Suid-Afrika vervaardig.

Die oorspronklike Britse weergawe verskyn reeds op BBC Entertainment (DStv-kanaal 120). Hier word entrepreneurs die platform gebied om hul innoverende en buite-die-boks-idees aan ’n paneel beleggers, oftewel “dragons”, voor te lê.

Dragons' Den

Hierdie sakekenners besluit dan of hulle hul tyd én hul eie geld in die entrepreneurs se skeppings en nuwe uitvindings wil belê. Slegs die entrepreneurs met die beste en mees interessante idees stap weg met hul deel van die beskikbare fondse, wat miljoene rande beloop.

Die plaaslike Dragons’ Den sal in September op Mzanzi Magic (DStv-kanaal 161) begin draai. Inskrywings vir deelname aan dié realiteitsreeks is nou oop by www.mzansimagic.tv.

Bron: Screen Africa