kykNET se gewilde sepie, Suidooster, kry ’n vyfde episode per week volgende jaar! Dit beteken dat dié daaglikse drama van Maandae tot Vrydae op teleivisieskerms gaan wys. 

Die bykomende episode sal vir die eerste keer op 6 April 2018 uitgesaai word en soos die huidige episodes van Suidooster sal die vyfde episode se premiumtydsgleuf ook 18:30 op kykNET en kykNET & kie wees. 

“kykNET-kykers is ongelooflik entoesiasties oor Suidooster en vra al van die eerste episode of dié sepie nie vyf dae ’n week kan wys nie,” sê Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale by M-Net. 

FOTO Verskaf

“Dit is regtig lekker vir kykNET om dié nuus voor Kersfees te breek dat die Samsodiens, Octobers, Du Plooys, Gerbers, Daniels-broers en die res van Ruiterbosch se inwoners uiteindelik elke weeksdag in Suid-Afrikaanse sitkamers gaan kuier.” 

Suidooster se akteurs is ook ongelooflik opgewonde oor kykNET se besluit en Denise Newman, oftewel Bridgette October, sê dat hulle al lank duim vashou vir ’n vyfde episode. “Hoewel ons meer woorde gaan moet leer, doen ons dit met ’n glimlag, want Suidooster se aanhangers verdien ’n Vrydag-episode, want hul ondersteuning vir die sepie is verstommend,” sê sy. 

Dit word beaam deur Jill Levenberg, wat die rol van die geliefde Mymoena Samsodien vertolk. “Dié nuus is die beste Kersfeesgeskenk vir Suidooster se aanhangers,” sê sy.

FOTO Verskaf

Die eerste episode van Suidooster is op 16 November 2015 uitgesaai en het begin met drie episodes per week en in Julie 2016 is ’n vierdie episode bygevoeg. 

Die permanente akteurs in alfabetiese volgorde volgens voornaam is: 
Abduraghmaan Adams, Cedwyn Joel, Dean Smith, Denise Newman, Desiré Gardner, Eden Classens, Gantane Kusch, Gideon Lombard, Greta Pietersen, Irshaad Ally, Jill Levenberg, Lauren Joseph, Marcel van Heerden, Marco Spaumer, Maurice Paige, Portia Joel, Simone Biscombe, Theresa Sedras en Vashti Prins.

Suidooster word deur Suidooster Films by Atlantic Studios in Kaapstad vervaardig.