Hoe nou gemaak – Wade (Dean Smith) en Zoë (Lauren Joseph), die bloedjong paartjie in kykNET se Suidooster, is swanger. Wade wil die babatjie hou, maar Zoë wil ’n aborsie hê. Hier kom probleme.

Suidooster skrik nie vir kontroversiële onderwerpe nie.

Wilmer Muller, publisiteitsbestuurder vir die sepie, sê: “Sepies vermaak, maar verskaf ook leersame kykstof. Met die onlangse troue tussen Rhafiek (Irshaad Ally) en Carmen (Desiré Gardner) het Suidooster geleentheid gehad om aan die breër Afrikaanse gehoor die Moslemtradisies te wys. Die terugvoer was oorweldigend positief. Sepies gee ook ongemaklike, taboe onderwerpe ’n platform en wys aan kykers die trauma wat met moeilike besluite gepaardgaan.”

'n Bruilof: Carmen Fourie (Desiré Gardner) en Rhafiek Samsodien (Irshaad Ally). FOTO Suidooster

Volgens Wilmer wil die vervaardigers met storielyne soos Siya (Gantane Kusch) se verkragting en die onbeplande swangerskap van Wade en Zoë as jong mense nie kykers skok of ontstel nie, maar bloot ’n bewustheid daaroor skep.

Aktrise Lauren sê die grootste uitdaging was om eerlik te wees in haar vertolking van die onverwagte wending: “En om te kyk hoe dit ontvang gaan word. Ek moes ook probeer om die emosionele proses te verstaan van iemand wat deur ’n onbeplande swangerskap gaan – jy vertel immers ’n storie oor menswees. Ek moes dus in die psige delf van ’n jong vrou wat deur so ’n swangerskap gaan.” Sy het navorsing daarvoor gedoen deur met mense in soortgelyke situasies te gesels.

Zoë (Lauren Joseph) en Wade (Dean Smith). FOTO Suidooster

Dean sê: “Ek het opnuut besef mense gaan gou weet as Wade nie die onderwerp so opreg as moontlik vertolk nie. Dit bly onvoorspelbaar hoe ’n onbeplande swangerskap jou lewe gaan beïnvloed, maar dit gaan vir seker vir ewig ’n impak op jou lewe hê.”

Marlize Heppell, ’n sielkundige van Klerksdorp, sê ouers kan dankbaar wees as hul kinders vir hulle in hul vertroue neem oor ’n ongewenste swangerskap. “Huil liefs ‘na binnetoe’, maar hou ’n rasionele front na buitentoe.” Sy raai ouers aan om al die opsies met hul kinders te bespreek – van aborsie tot aanneming of om die kindjie self groot te maak. “Belangrik egter is om nie jou swanger kind met ekstra skuld en verwyte op te saal nie. ’n Proses van herbeplanning lê voor – almal se hulp is nodig. Die beste belang van die ongebore baba kom eerste. Dit is nie nou die tyd om jou te steur aan ‘wat die mense sê’ nie.”

Haar raad is dat al die betrokkenes so nugter moontlik moet probeer bly. “Hierdie kleinkind bring dalk eendag sjokolade en blomme na die versorgingsoord – en ouma en oupa sal sekerlik baie lief vir hom of haar raak,” sê Marlize.

Navrae: Marlize Heppell: Mheppell@nwpg.gov.za