Einde verlede jaar het Jacinda 30 geword. Ná twee babas en die eise van moederskap was haar lyf nie meer wat dit eens was nie. "Dis nie dat ek vreeslik gewig aangesit het nie, ek was net nie meer gespierd nie. Ek het met die tweede swangerskap seker 10 kg bygekry, maar dit weer stelselmatig begin verloor. My man, Hansie Schutte, het my toe uitgedaag om op 30 die beste te lyk wat ek nog in my lewe gelyk het."

Sy het die uitdaging aanvaar en ses maande later lyk Jacinda fantasties. Dit was egter nie altyd maklik nie. "Ek het 'n baie spesifieke dieet gevolg en het drie maal per week deelgeneem aan 'n bootcamp, wat baie strawwe oefening is. Ons bly in die Peacanwood-landgoed naby Hartbeespoortdam, so ons het berge geklim, geswem en om die dam gedraf," vertel Jacinda trots.

Buiten die bootcamps het Jacinda ook twee keer per week saam met haar persoonlike afrigter geoefen.

Sy vertel sy wil nou meer fokus op toneelspeel as modelwerk. "Ek voel my lewe gaan nou meer in daardie rigting."

Jacinda en Hansie is al byna 4 jaar getroud en het twee dogters, Scarlatt (3) en Sienna (17 maande).

Jacinda Louw