Almal is verheug oor die goeie nuus dat prins William en Kate hul eersteling verwag. Maar dié nuus is vroeër aangekondig as wat die koningshuis dit graag sou wou hê omdat Kate Maandag 3 Desember in die King Edward VII-hospitaal opgeneem is weens hyperemesis gravidarum, 'n toestand van erge oggendnaarheid wat omtrent 3% van swanger vroue tref. (bron: www.babycentre.co.uk)

Volgens die Johannesburgse ginekoloog dr. Heidra Dahms is dit normaal vir swanger vroue om naarheid te ervaar weens 'n toename in hormone. Maar in sommige gevalle is oggendnaarheid en braking so erg dat dit gewigsverlies en dehidrasie veroorsaak en word dit as hyperemesis gravidarum geklassifiseer. Só 'n pasiënt kry dan drupbehandeling om liggaamsvloeistof, elektroliete en minerale weer in balans te kry. Kate sal, volgens die koningshuis, 'n ruk lank in die hospitaal bly.

Volgens berigte blyk dit dat Kate maar sowat 8 weke swanger is, aangesien dié toestand gewoonlik in die eerste trimester van 'n swangerskap voorkom.

William en Kate se eersteling sal die derde aanspraakmaker op die Britse kroon wees ná prins Charles en prins William. Volgens berigte het Kate se ouers oor die naweek die blye nuus ontvang, terwyl koningin Elizabeth eers gister ingelig is.

FOTO: Prins William verlaat die Prins Edward VII-hospitaal Maandagaand om 8:15 ná hy die grootste deel van die dag sy vrou bygestaan het.

PRINS WILLIAM KOM OP DAG 2 BY DIE HOSPITAAL AAN OM VIR KATE TE BESOEK.