Die Amerikaanse komediant en aktrise Amy Schumer, wat met haar eersteling swanger is, is in die hospitaal opgeneem weens hiperemese. 

Hiperemese is ’n erge vorm van oggendnaarheid wat veroorsaak dat jy skaars kan eet of drink en dus die risiko loop van dehidrasie. Nog simptome is geweldige moegheid, lighoofdigheid en floutes. Vroue met die simptome moet soms drupbehandeling kry. Die hertogin van Cambridge, Catherine, het gedurende al drie haar swangerskappe daaraan gely en is nes Amy verskeie kere in die hospitaal opgeneem.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Amy, wat in Texas sou optree, het haar aanhangers op Instagram om verskoning gevra.

"Texas, ek is werklik jammer ... ek moet herskeduleer. Ek is in die hospitaal. Ek is okay, die baba is okay ..." het die 37-jarige ster op Instagram geskryf.

Hoewel sy en haar man, sjef Chris Fischer, baie opgewonde is oor hul baba, erken Amy die swangerskap raak al hoe moeiliker noudat sy in die tweede trimester is.

FOTO Getty Images/ Gallo Images