Toe val die beker om terwyl sy die kookwater uit die ketel skink en stort uit op haar pragtige bobene (gelukkig geklee in 'n sweepakbroek). "Anders het ek tweedegraadse brandwonde opgedoen."

Swemklere-model Lee-Ann Liebenberg sou op 14 April na die Maledive-eilandgroep vertrek om 'n swemklere-modesessie vir 'n Duitse katalogus te doen. Maar dis nou neusie verby.

"Dit was ontsettend pynlik toe dit gebeur het . . . Dis asof alles en niks tegelykertyd deur my brein geflits het. Almal vra of ek hard geskreeu het, maar ek was so geskok, dat ek stom was. Ek het net geweet: hier is probleme!"

Haar man, Nicky van der Walt, het haar gebel nét na die ongeluk en sy het besef, sy moet die wonde koel hou om die pyn te probeer laaf. "My man het dadelik my man en vriende oorgestuur om my by te staan. Gelukkig het ons Burnshield in ons eerstehulpkassie tuis gehad en ek het dadelik my bene met dié koel jel bedek. Ek het agterna gelees ek moes eintlik my brandwonde onder koel, lopende water vir sowat twintig minute gehou het om die temperatuur van my vel te reguleer. Ek dink elke huis behoort dié jel aan te hou. Ek raak nog stadig maar seker gewoond aan die pyn, maar ek kyk vorentoe."

Sy gebruik 'n room wat keer dat merke vorm.

"Ek het baie uitgesien na dié modesessie, maar gelukkig ws ek al op dié eilande. My man en dogtertjie sou ook saamgekom het en ek hét nogal uitgesien na bietjie sonbaai en na lekker skemerkelkies in die son . . . Maar dit was net iets wat móés gebeur. Daar wag vir seker iets anders vir my, ek weet sommer!

Dit het my geleer om versigtiger te wees met kookwater. Letterlik! Ek is só gelukkig my 17 maand oue kleutertjie was nie naby toe dit gebeur het nie. Om te dink iets kon met háár gebeur het, maak my bang. Ek besef net hoe vinnig iets kan gebeur. 'n Mens moet níks as vanselfsprekend aanvaar nie."

"Ek het ook nog nooit besef hoeveel skade kookwater kan aanrig nie. My boodskap aan mense: wees báie versigtig in die kombuis, veral as jy werk met kookwater waar daar kinders is."

Lee-Ann Liebenberg verbrand haar bobeen met kookwater