Met die sukses van sy splinternuwe album, Roeper, en ook sy suksesvolle samewerking met Juanita du Plessis op hul nuwe DVD, Hart vol drome, het Theuns nou deel van die uitgelese miljoen-groep geword.

"Dis natuurlik 'n baie groot eer en meer as wat ek ooit verwag het," sê Theuns. "My droom was nog altyd om die sanger te wees wat in die hoek van 'n pub sit en sing. Om dus dié sukses te behaal is soveel groter as wat ek ooit gedink het dit sou wees."

Roeper, Theuns se vyfde solo-CD, het reeds goue status behaal voor dit nog op die rak was. Dit is tans nommer een op Musica se Top-20 en is ook die afgelope twee weke die nommereen-CD in die land volgens RSG se Top-20. Hart vol drome is wat DVD-verkope aangaan die nommer een op Musica se verkooplys.

Twee van Theuns se vorige albums, Vreemde stad en Tjailatyd, het die 200 000-merk verbygesteek en Seisoen se verkope is meer as 110 000. Koue vuur het meer as 100 000 eenhede verkoop en sy Grootste Treffers-album het meer as 80 000 verkoop. Roeper beloof om net so 'n groot sukses soos sy voorgangers te wees.

”Ek het lank gewerk aan Roeper en is baie dankbaar vir die sukses,“ sê Theuns.

Die album bestaan uit veertien snitte waarvan Theuns op tien die skrywer of mede-skrywer was. Een van die liedjies, Voor die storm kom, is reeds 'n treffer, en die duet met Marta Gomez, die Spaans-Afrikaanse weergawe van Soos bloed, wys hoe ver Afrikaanse musiek kan strek. Die duet met Doctor Victor op die prettige Wie se kind is jy is ’n gunsteling onder aanhangers, maar dis veral die nuwe snitte soos Honger hart, Hartseer vir die reën en Bloutrein wat Theuns vestig as een van die beste sanger/liedjieskrywers in Afrikaans.

Kry jou eksemplaar van Roeper aanlyn by kalahari.com

Op 11,12 en 13 Oktober 2012 hou Afrikaans is Groot vir die eerste keer konsert – 'n trefferparade van SA se grootste sangers, almal op een verhoog by die Moreletapark-Gemeente in Pretoria.

Met Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Lianie May, Jannie Moolman, Arno Jordaan, Corlea Botha en Jak de Priester.

SARIE is 'n media-vennoot, en hierdie is beslis 'n konsert om nie mis te loop nie!

Kry jou kaartjies nou by bookings.pnptickets.co.za