Katie Holmes het dieselfde oggend wat sy aangekondig het dat sy van haar man van 5 jaar gaan skei, ook uit die woonstel getrek waar sy en Cruise in New York gewoon het, berig www.people.com. Cruise werk tans in Ysland aan 'n nuwe fliek, Oblivion, en die nuus van sy egskeiding het hom daar bereik.

Dis nie net die egpaar se openbare beeld wat nou op die spel is nie, maar ook die toekoms van Suri, hul 6-jarige dogtertjie, berig www.huffingtonpost.com. Volgens gerugte is Katie se besluit om in New York van Tom te skei 'n poging om enkeltoesig oor Suri te kry. Die paartjie woon eintlik in Los Angeles, maar die wetgewing in New York kan tot Holmes se voordeel wees. Cruise, wat vandag 50 jaar oud word, het die meeste om te verloor.

"Dié egskeiding gaan vir seker sy beeld skade doen," sê Dorie Clark, skrywer van Reinventing You: Define Your Brand, Imagine Your Future. Hy meen Cruise het reeds skade aangerig toe hy in 2005  op en af op Oprah se bank gespring het oor sy nuwe verhouding. Dit was net ná video's van sy sciëntologiese geloofsoortuiging uitgelek het.

Dit is Cruise se derde egskeiding. Hy was voorheen met Mimi Rogers en daarna met Nicole Kidman getroud. Hy het 2 kinders by Kidman.

"Hierdie egskeiding gaan waarskynlik goed wees vir Katie se beeld. Mense gaan aan haar dink en simpatie hê met haar situasie," meen Clark. Sy het 'n baie suksesvolle seisoen agter die rug met rolle in die bekroonde The Kennedys en in Adam Sandler se Jack and Jill wat binnekort begin draai. Sy begin  volgende maand met 'n nuwe projek.

Cruise se rol in Rock of Ages het goeie kommentaar onder kritici uitgelok en sy mees onlangse Mission Impossible – Ghost Protocol het meer as $690 miljoen wêreldwyd verdien.

"Hy was nog altyd die dinamiese held, iemand van wie aanhangers maklik hou. Maar mense gaan dit moeiliker begin vind om 'n held te steun in wie se werklike lewe daar vrae is oor watter soort pa en man hy eintlik is," meen Clark.

Holmes se prokureur, Jonathan Wolfe, het gesê haar grootste wens is om dit te doen wat op die lang duur die beste vir Suri gaan wees.