Die openingstoneel voer jou mee na ’n ander wêreld ...’n nou paadjie, aan weerskante so dig bebos dat jy niks buiten die groen ritselende blare kan sien nie, vae mis in die verte, en jy voel asof jy stap, stap, stap, en die wind jou vorentoe waai. En skielik is jy dáár, diep in die Knysnabos in 1933, en al wat jy hoor, is die wind se gesuis en die geroep van voëls. Voor jou staan Karoliena Kapp met haar deurmekaar bos hare en sy praat met ’n majestueuse boom, hoër as al die ander, sy stam vyf keer so breed soos sy.

Toorbos, gebaseer op wyle Dalene Matthee se boek met dieselfde naam (Tafelberg, 2003), vertel die storie van Karoliena, wat haar lewe lank nog net die bos ken, en haar soeke na haar identiteit wanneer sy met ’n sakeman trou en op die dorp daar naby gaan woon. Maar die verhaal gaan net soveel oor die misterie van die bos as oor Karoliena en die mense om haar.

En om daardie wêreld te skep wat jou behoorlik laat voel jy stap saam met Karoliena dié stukkie van haar lewenspad, die wind ook in jou hare en jou voete kaal op die grond, het ongelooflike vindingrykheid geverg. Soos die produksiespan vertel ...

Elani Dekker as Karoliena Kapp en Ivan Abrahams as
Elani Dekker as Karoliena Kapp en Ivan Abrahams as Bothatjie.
Ira Blanckenberg as Meliena Kapp
Ira Blanckenberg as Meliena Kapp
Lida Botha as Elmiena
Lida Botha as Elmiena

OP NOU BOSPAADJIES

Daardie einste wind was nie sommer toevallig nie – dis nagemaak om beweging in die bos te skep en dit lewe te gee. Die produksiespan moes windmasjiene van 2x2meter insleep na die hartjie van die Knysnabos en met ’n petrolenjin aan die gang kry. Op pad was daar ’n brug waar geen voertuig kon oorry nie, vertel Waldemar Coetsee, produksieontwerper.

Agt mense moes die masjien uitmekaar haal, oor die brug dra, en weer aanmekaar sit.Watertorings om reën na te maak moes ook so op die stel gekry word.“Dan sou ons my bakkie met ’n ton water op ’n slag laai en dit aanry.”

René van Rooyen, die draaiboekskrywer en regisseur, vertel die bos is eintlik ook ’n karakter in die film. “Dit was vir ons belangrik om so outentiek moontlik te wees. Ons het al twee jaar voor die verfilming begin navorsing doen om soveel moontlik oor daardie tyd, die bos en die mense in die omgewing te leer. Ek het selfs met die laaste twee Zeeliehoutkappers, afstammelinge van die houtkappers wat in die vroeë twintigste eeu in die bos gewoon het en wie ons wou uitbeeld, gaan praat om die bos beter te verstaan. Ek moes letterlik rondry en vra waar ek hulle kon opspoor, dan sou die een mens my na die volgende verwys, en uiteindelik het ek hulle aan die buitewyke van die bos in ’n klein shack gevind.”

René was as skrywer en regisseur al betrokke by groot Afrikaanse rolprente soos Mooirivier en Vaselinetjie en toe sy Toorbos in 2012 lees, móés sy eenvoudig ’n film maak. “Maar om so ’n ikoniese storie aan te pak is intimiderend. Jy moet dit reg doen en daarom was die navorsing ontsettend belangrik. Die storie speel ook af in ’n polities gelaaide tyd, waar die preapartheidsregering die bosmense probeer ‘rehabiliteer’ het om so die verkiesing te wen.

“Ek het ure by die Knysna Historiese Vereniging deurgebring en die houtkappers se inskrywings uit daardie jare gelees. Elke boek en inskrywing oor Knysna in die 1930’s in die Kaapstad-biblioteek gaan soek, en deur die Carnegieondersoeke gelees [’n studie oor arm wit mense in die 1930’s, wat ’n groot rol in die apartheidsbewind sou speel]. Anders as wat al in vorige films uitgebeeld is, was die bosmense ’n trotse klomp, het ek geleer. Hulle het vir hulself gewerk en daardie onafhanklikheid was vir hulle belangrik, al was hulle arm.

Dit was in die jare voor Afrikaanses uitmekaar getrek en ’n homogene identiteit gegee is. Mense het gemeng geleef, bruin en wit saam in die bos. Al daardie agtergrondinligting was so belangrik en sou ’n invloed hê op alles – van die toneelspel tot die grimering.”

Karoliena in een van haar netjieser dorpsuitrustin
Karoliena in een van haar netjieser dorpsuitrustings.
kstras op die stel in die Knysnawoude.
Ekstras op die stel in die Knysnawoude.
Donkies moes kilometers ver in die bos in begelei
Donkies moes kilometers ver in die bos in begelei word.
Gretchen Ramsden as Hestertjie.
Gretchen Ramsden as Hestertjie.

ONDER KALANDERBOME

Dit het René ses jaar geneem om die draaiboek te skryf, maar die hele film is in 2018 binne vyf weke geskiet. En vir daardie paar weke het die hele produksiespan byna nes die bosmense van jare gelede geleef. Daar was nie selfoonopvangs of moderne geriewe nie; hulle moes soos die mense van destyds binne die perke van die natuur werk en leef.

“Ons is regtig meegevoer na daardie wêreld en tyd,” vertel René. “Ons het in ’n vreeslik digte deel van die bos verfilm en soggens was dit stikdonker. Ons sou met kopflitse op die bospaadjies loop en net mekaar se silhoeëtte in die verte sien. Toe ons terselfdertyd in aparte dele van die bos verfilm het, sou ons vir mekaar briewe skryf en só boodskappe aanstuur.”

Die stel moes van niks af gebou word – toevallig op dieselfde plek waar Fiela se kind (1987) destyds verfilm is, naby ’n reusagtige kalanderboom, wat ’n spilpunt in Karoliena se wêreld is. Waldemar moes vir weke vooraf met Sanparke onderhandel om in die digte, natuurlike bos te kan bou en skiet.

“Ons wou in ’n deel van die bos verfilm wat min deur moderne mense versteur is en waar niks nog uitgekap is nie. Sanparke het ons uiteindelik op dié stuk grond toegelaat, maar ons mag glad nie die fauna en flora versteur het nie. Ons mag net 60 cm diep gegrawe het om die hele dorp daar te bou en ons het onbehandelde, ru hout gebruik, nes die mense destyds. Maar dié moes natuurlik aangery word en dit het ons elke oggend ’n uur en ’n half geneem net om daar uit te kom op grondpaaie en nou bospaadjies, deur reën en modder. Verbasend genoeg het die 1936-Chevrolet wat in die film te sien is, die maklikste deur die diep modder gery!

“Naderhand was ons regtig nes bosmense – ons sou die vorige dag se klere net weer aantrek, want dit het aanhoudend gereën en niks kon droog word nie, als was vol modder.”

Motors het vasgeval in die diep modder in die woud
Motors het vasgeval in die diep modder in die woud.
Ekstras in die dorpstonele op McGregor
Ekstras in die dorpstonele op McGregor
Paramedikus Charles Magweby en grimeerkunstenaar N
Paramedikus Charles Magweby en grimeerkunstenaar Nanna Castmar-Jensen.
othatjie is ’n belangrike figuur in Karoliena se s
Bothatjie is ’n belangrike figuur in Karoliena se soeke na haar identiteit.

OP DIE DORP

Die bosmense het ’n swaar lewe gelei, en dit het natuurlik die grimering, kostuums en rolverdeling beïnvloed. Simone Landey, wat verantwoordelik was daarvoor om ekstras te soek en vir die kleiner rolverdeling, sê sy het in Knysna se “hippie”-gemeenskap mans met baarde gaan soek om bosmense te speel.

Theola Booyens, grimeerkunstenaar, sou hulle vuil laat lyk deur hulle met groot kwaste vol grimering te bespat.

In kontras daarmee speel ’n groot deel van die film op ’n dorp naby die bos af (dié tonele is op McGregor geskiet, want Knysna lyk deesdae te modern) en die dorpsmense is uiters netjies uitgebeeld om hulle van die bosmense te onderskei. Om eie aan die tyd te bly is hul grimering in skakerings van roesrooi gedoen, want vandag se helder rooie en bloue was toe nog nie beskikbaar nie. “Ons het selfs hul hare met krullers gekrul en gesproei, nes hulle destyds gedoen het, want moderne krultange se krul lyk effens anders,” sê Theola.

Elani Dekker, wat die rol van Karoliena vertolk, se hare is ook reguit en blink gemaak wanneer sy tonele in die stad moes skiet, en gekoek vir die bostonele. Haar kostuums moes dié gedaantewisseling uitbeeld, sê Sulet Meintjies, kostuumontwerper.

“Haar kostuums het ’n storie op hul eie vertel.Wanneer sy die eerste keer op die dorp kom, dra sy steeds die bos se bruin en groen skakerings. Maar hoe langer sy daar is, hoe ligter die kleure, totdat sy uiteindelik,soos die ander dorpsmense, skakerings van room en turkoois dra.”

Die kostuums is wyd en syd in tweedehandswinkels gesoek, sommige by teaters gehuur, en ander spesiaal gemaak. Die boskostuums was egter die grootste uitdaging. “Ons het verskriklik baie moeite gedoen om die klere oud en ingeleef te laat lyk. Daar is nie sommer net modder op gesmeer nie; ons het elke kledingstuk met klippe en bleikmiddels gewas. Boonop moes ons twee van elke stuk presies dieselfde laat lyk vir kontinuïteit – wanneer een toneel byvoorbeeld in nat klere verfilm moes word en die volgende in droë klere.”

Karoliena trou met sakeman Johannes Stander (Stiaa
Karoliena trou met sakeman Johannes Stander (Stiaan Smith).
Assistent-regisseur Ferdi Burger, Elani, Stiaan en
Assistent-regisseur Ferdi Burger, Elani, Stiaan en Anneke Olivier (rekwisiete).
Karoliena en Samuel (Johan Botha).
Karoliena en Samuel (Johan Botha).

IN DIE 1930’S

Vir Elani was die kostuums, grimering en aksent ’n belangrike aspek van haar toneelspel. Sy moes weke lank vooraf oefen om die bosmense se unieke aksent aan te leer, sodat dit nie aangeplak sou voorkom nie. Marth Munro, ’n aksentafrigter vir akteurs, het haar en die ander akteurs daarmee gehelp.

“Dit was ’n baie interessante ervaring om met so ’n unieke aksent te werk,” vertel Marth. “Ons moes deur hope navorsing lees en luister om die bosmense se aksent uit te pluis – hoe hulle klanke in die mond gevorm het, die nasalering, hoe jy jou tong sou beweeg, hoe ver jou tande van mekaar af is. Selfs waar hulle klem sou plaas of pouses sou neem in ’n sin en hoe die melodie daarvan klink. Dan moes Elani se aksent ook effens en stelselmatig verander hoe meer tyd sy op die dorp deurgebring het. Sy het uitstekende werk gedoen.”

Die span het haar werk maklik gemaak, sê Elani.“Omdat almal so baie navorsing en moeite gedoen het, kon ek myself regtig in die rol inleef. Dit het eintlik min verbeelding gevat, want wanneer ek van buite anders gelyk het, anders gepraat het, het ek ook so gevoel. En omdat ons vir weke so afgesonder in die bos geleef het, het ek gevoel of ek dáár is, in die 1930’s. Dis ongelooflik hoe aanpasbaar die mens is.”

Maar Karoliena, en die verfilmingsproses, het Elani self ook verander. “Dis so ’n pragtige storie, vol diepte en waarhede. Die bosmense was so uniek, so sterk, maar ’n mens kan verstaan hoekom hulle uitgesterf het toe hulle uit die bos verwyder is – hulle was die bos en die bos was hulle. “Toe ek die eerste keer daarna vir my ma gaan kuier, het sy vir my gesê ek kom anders voor; sterker. En ek dink dis oor alles wat ek by Karoliena geleer het. Sy is ongelooflik onafhanklik en sal baklei vir dit waarin sy glo. Ek dink dit het my gehelp om ook meer in myself te glo en minder om te gee wat ander mense van my dink.”

Maar dalk is dit ook te danke aan die magiese bos, want hoe kan dit ’n mens nie verander nie wanneer jy weke in die skadu van ’n eeueoue kalanderboom deurbring, wat lank voor jou daar was en nog lank ná jou daar sal wees? Gaan kyk dié een op die grootskerm, want dis ’n storie wat jy nie net kyk nie, maar vóél.

*Toorbos is vanaf 13 November in rolprentteaters te sien.

André Odendaal as Cornelius.
André Odendaal as Cornelius.
Edrien Erasmus as Hestertjie se ma.
Edrien Erasmus as Hestertjie se ma.
Ivan Abrahams as Bothatjie.
Ivan Abrahams as Bothatjie.