Die Britse model Cara Delevingne is eersdaags op die silwerdoek te sien - in ’n fliek wat losweg op die moordsaak met Amanda Knox gebaseer is, skryf Harper's Bazaar.

Die Amanda Knox-saak is juis op die oomblik weer in die kollig. Sy was ’n Amerikaanse uitruilstudent in Italië toe haar Britse kamermaat, Meredith Kercher, vermoor is. Volgens CNN is Amanda en haar eks-kêrel, Raffaele Sollecito, verlede week in Italië vir die tweede keer skuldig bevind op aanklagte van die moord op Meredith Kercher.

Die fliek, Face of an Angel, volg die verhoor van ’n beeldskone meisie wat aangekla word van die moord op een van haar vriendinne nadat ’n seksspeletjie verkeerd geloop het. Daar is ’n mediasirkus oor die saak wanneer ’n skrywer en fliekmaker die toneel betree om ’n fliek gebaseer op die saak te maak.

Kate Beckinsale speel die skrywer en Daniel Brühl is die rolprentmaker. Cara Delevingne, wat ook al in kortflieks vir Chanel gespeel het, vertolk die rol van ’n Britse student wat Daniel se oog vang.

Kyk hier na die eerste lokprent van Face of an Angel.

Bronne: Harper's Bazaar & CNN