Wat 'n blaps! Chris Gayle, 'n krieketster van die Wes-Indiese Eilande, se vlerksleep-poging op televisie het hom sowaar 'n boete van AU$10 000 (Australiese dollar, sowat R112 000) gekos.

Chris het Maandag tydens ’n T20-wedstryd in Hobart, Australië, vir die joernalis Mel McLaughlin ogies gemaak. En dit voor die kamera!

Terwyl Mel vir Chris oor die wedstryd probeer uitvra, het hy net gesê: "Om jou oë vir die eerste keer te sien is wonderlik. Hopelik kan ons na die tyd 'n drankie kry. Moenie bloos nie!"

’n Duidelik ongemaklike Mel het met die onderhoud probeer aangaan, maar Chris het haar weer gekomplimenteer. Kyk hier:

Chris het ná die wedstryd om verskoning gevra, maar sy krieketklub, die Melbourne Regenades, het hom steeds 'n vet boete gegee.

Hy is nie die enigste sportster wat al voor die kamera ogies gemaak het nie.

In 2010, tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi, het die Spaanse sokkerkaptein, Iker Casillas, vir sy joernalis-meisie, Sara Carbonero, voor die kameras gesoen. Sara was besig om 'n onderhoud met Iker te doen toe hy haar net skielik gryp en soen.