AskMen.com doen jaarliks 'n internasionale meningspeiling om die wêreld se invloedrykste man te soek. Voorheen is daar eerder na styl en geld gekyk, maar vanjaar is mans met visie, dapperheid en deursettingsvermoë gekies. Nou het twee SA manne dié lys gehaal.

Die redakteur van dié webtuiste sê hulle kon ’n duidelike skuif sien in hoe mense dink. ’n Paar jaar gelede was mans met geld en styl, soos hoofde van groot finansiële maatskappye, op dié lys. Nou is dit mans wat ’n verskil gemaak het en die wêreld ’n beter plek wil maak.

Hierdie is die 5 invloedrykste mans volgens hul peiling:

5 – Nelson Mandela

4 – Chris Hadfield, bevelvoerder van die Internasionale Ruimtestasie wat tydens sy verblyf op dié stasie sosiale media gebruik het om almal bekend te stel aan die ruimte. Hy het ook die eerste "musiekvideo" in die ruimte opgeneem. Lees meer hier.

3 – Bryan Cranston, bekroonde akteur van die Amerikaanse misdaad-dramareeks Breaking Bad. Sir Anthony Hopkins het gesê dit is die beste toneelspel wat hy nog gesien het.

2 – Jason Collins, Amerikaanse basketbalspeler. Hy sal altyd in die geskiedenisboeke bekend staan as die eerste professionele atleet wat nog die sport beoefen het toe hy erken het hy is homoseksueel.

1 – Elon Musk. Dié 42-jarige sakemagnaat is in Suid-Afrika gebore, maar het ’n groot deel van sy lewe in Kanada gewoon. Buiten sy sakeondernemings wat hy self begin het, soos PayPal, gee hy om vir die omgewing. (Baie van sy maatskappye doen ook navorsing oor hoe ons besoedeling kan verminder en son-energie doeltreffend kan gebruik.) Hy is ook die inspirasie vir Tony Stark, die hoofkarakter in die Iron Man-rolprente.

Daar was onlangs gerugte dat Elon en Cameron Diaz ’n paartjie is. Lees hier!   

Wie is Elon Musk?

  • Elon Musk is op 28 Junie 1971 in Pretoria gebore.
  • Sy ma is Kanadees en sy pa Suid-Afrikaans.
  • Elon het sy eerste rekenaar as kind gekry en homself leer programmeer.
  • Op 12 het hy sy eerste kommersiële sagteware vir ongeveer $500 (sowat R5 000) verkoop.
  • Hy het aan Pretoria Boys High School gematrikuleer.
  • Hy het aan universiteite in Kanada en in Amerika gestudeer in onder meer ekonomie en fisika. Hy het begin met 'n doktorsgraad in fisika en wetenskap aan die Universiteit van Stanford, maar dit nooit voltooi nie.
  • Hy het drie gebiede geïdentifiseer waarop hy wil fokus om die belangrikste probleme van die mensdom op te los: die internet, skoon energie en die ruimte.

Bron: Canada.com