Ons bel dadelik. Dié blonde, elegante aktrise van District 9-faam, lag lekker: ''Nee, ek gaan nêrens heen nie. Dis nog net drie slapies, dan sien ek my nuwe kêrel van die afgelope twee en 'n half maande!''

Sy naam is Ryan Sandes en hy is die wêreld se voorste ''trail runner''. Hy is mal oor ultramarathonne en ekstreme sportsoorte. Vanessa vertel sy het hom by die Knysna Groot 5-uitdaging ontmoet toe sy onlangs daar aan die halfmarathon en bergfietswedren ten bate van die Starfish Greathearts-stigting vir vigswesies deelgeneem het.

''Vriende het ons voorgestel en hy is wonderlik. Ek was só lank 'n alleenloper en dis skoon snaaks om weer 'n kêrel te hê.

"Ryan is 'n groot gentleman wat my beskerm en motiveer. Hy het pas aan 'n groot kompetisie in die Alpe deelgeneem en keer nou terug van München. Ek sien hom Sondag en volgende week gaan ons in die Vrystaat vakansie hou. Dit sal my eerste vakansie in twee jaar wees en ek sien vreeslik uit daarna.

"Dis so lekker by hom, want hy is supersnaaks. En hy bring die beste in my na vore.

"Hy tree ook dikwels as motiveringspreker by groot geleenthede op.''

Ryan is 28 en Vanessa 32. ''Ja, ek het vir my 'n jong ene uitgesoek,'' lag sy. Gaan lees meer oor die mooie Ryan by www.ryansandes.com. Ryan Sandes