Die Spaanse akteur Antonio Banderas het in die ouderdom van 59 sy eerste Oscar-benoeming vir beste akteur ontvang. 

Die donkerkop, wat in Augustus 60 word, word wyd geloof vir sy spel in die Spaanse fliek Pain and Glory.

Hy is nie die enigste akteur wat ná ’n lang wag beloon is nie. Die Oscar-wenner Tom Hanks het die eerste keer in 19 jaar weer ’n benoeming gekry vir beste manlike byspeler vir sy rol A Beautiful Day in the Neighbourhood.

Antonio het in 2017 Suid-Afrika besoek om sy parfuum, The Secret Temptation, bekend te stel. Hy het toe ’n onderhoud aan SARIE.com toegestaan waarin hy onder meer oor sy 60ste verjaardag gepraat het.

“Ek voel goed. Die jaar was vreesaanjaend, want ek het aan die begin van die jaar ’n hartaanval gehad. Ek het geleer jou gedrag het gevolge. Ek het vir lank gerook en het nou opgehou. As daar een ding is wat ek vir iemand wil sê wat hierdie storie lees, is dit hou op rook.”

Antonio glo daaraan dat jy jou drome moet volg. “Geniet die lewe! En volg jou drome na. Ek het as akteur in Spanje begin werk en myself daar opgebou. Toe ek later Hollywood toe gaan, moes ek ’n nuwe taal aanleer. Ek glo ek het gewys jou drome kan waar word. Die leefstyl wat ek verteenwoordig, is aspirerend,” het hy toe aan SARIE.com gesê.

Waaroor gaan Pain and Glory?

Oor Salvador Mallo, ’n bekroonde regisseur wat besin oor sy kinderdae soos sy loopbaan en gesondheid agteruitgaan.