Daar broei iets "agter die vrugtegordyn" van die skilderagtige Ceres-vallei in die Boland. Onmin, twis, skandale en geheime is volop in die bekende families De Bruyn, Roberts en Van Rhijn. Al drie dié families word al jare deur tragedies geteister. Aan die hoof is grondbaronne Con de Bruyn (At Botha), oom Boykie Roberts (André Rossouw) en Markus van Rhijn (Marko van der Colff).

Vallei van sluiers word deur Baobab-TV-produksies vervaardig en spog ook met Nico Panagio, Stian Bam, Erica Wessels, Michelle Burgers, Hannes van Wyk, Albert Maritz, Lida Botha en Yvonne van den Bergh in die rolverdeling.

In vanaand se episode:

In dié eerste episode maak ons kennis met die mense van die vallei. Daar is Con de Bruyn, sy oudste seun Hugo (Stian Bam), dié se vrou Hannah (Sophia Passerini) en hul seuntjie, Connie. Con se jongste seun, Jacques (Nico Panagio), is 'n baie suksesvolle vrugteboer. Oom Boykie en ta' Effie Roberts (Lida Botha) het hul twee seuns 20 jaar gelede in 'n swemongeluk verloor, en sedertdien praat hul dogter, Beulah (Tinarie van Wyk-Loots), nie 'n woord nie. Hulle dra hul kruis in blymoedige gelatenheid.

Markus van Rhijn is 'n gewese vriend van Con en sy vrou, Emma (Michelle Burgers), is baie ongelukkig. Hul pragtige dogter, Monique (Jana Fischer), was 'n model, maar weet nie wat om met haar lewe te doen nie.

Dinge word deurmekaar gekrap wanneer 'n geheimsinnige vreemdeling sy opwagting in die vallei maak.