Op ’n grys Kaapse reëndag is ek op my gelukkigste. Alles is dan groener, die lig se gehalte is beter: vol grein soos in ’n ou Franse kunsfliek.

Die koue en ’n tekort aan ’n gereelde dosis vitamien D kan ’n mens egter tog onderkry.

Ek beskerm my teen die versoeking om te hiberneer deur aktief te bly. Moenie probeer om jou somerroetine vol te hou nie. Binnenshuise sport is ideaal. Ek speel aksie-netbal en doen binnemuurse rotsklim. Albei is lekker sosiaal en ek kan dit saans of ná werk doen. Die rotsklim in die klim-gim kan ek boonop op my eie doen.

Dis uitstekende kragoefening en maak my kop skoon. Dit gee my ’n energie-inspuiting vir die koue dae wat voorlê. Omarm die winter. Ons dink omdat ons in Afrika woon, durf ons nie koud kry nie.

Basta daarmee, ek gaan hierdie winter koud kry – en dit geniet!