In die nadraai van 2003 se Wêreldbeker-toernooi en alles wat daarmee saamgegaan het, het Rudolf Straeuli as Springbok-afrigter bedank. Rian Oberholzer, besturende direkteur van SA Rugby (Edms) Bpk het ook bedank en Brian van Rooyen is tot Saru se nuwe president verkies.

Dié goed het my nie te veel geskeel nie. Heyneke Meyer se naam is as ’n moontlike opvolger vir Rudolf genoem, asook Rudy Joubert s’n, maar aan die begin van 2004 was die Super 12 al waaraan ons in Pretoria kon dink.

Ons het goed gevaar in 2003 en het ’n plek in die halfeindronde net-net misgeloop. Die Blou Bulle het ’n tweede keer agtereenvolgens die Curriebeker gewen en ons was vol selfvertroue vir die seisoen, ons tweede saam met Rudy. Die selfvertroue op die oppervlak was egter net skyn; in die Bulle se binnekamer was alles nie pluis nie.

Rudy het my aangewys as kaptein vir die Super 12, maar Anton Leonard was die Currie-beker-kaptein. Ek en Rudy het die hele 2003 saamgewerk, eers by die Bulls en toe by die Bokke. Ons het mekaar verstaan en ek, asook ’n hele paar van die Bulle se Wêreldbeker-Bokke soos Bakkies Botha, Danie Coetzee, Danie Rossouw en Richard Bands, het hom ondersteun.

In die ander hoek was Heyneke, Anton en die span Curriebeker-wenners; manne soos Fourie du Preez, Gary Botha, Gavin Passens, Johan Roets, Pedrie Wannenburg, Wynand Olivier, Frikkie Welsh en Wessel Roux. Ons was in twee kampe en dit was ’n ongesonde situasie.

Boonop was Pretoria se twee groot koerante, Beeld en die Pretoria News, my ook nie juis goedgesind nie. Ek en Rudy is gereeld gekritiseer, maar Heyneke kon in hul oë niks verkeerd doen nie.

Van my spanmaats het die wêreld vir my as Bulls-kaptein ook nie maklik gemaak nie. Van die begin van die seisoen af kon ek aanvoel daar is twee kampe: die Wêreldbeker-Bokke en die Curriebeker-wenners. Dit is nie hardop gesê nie, maar van die jonger spelers het gevoel dat Rudy die Wêreldbeker-Bokke bo hulle verkies. Party ouens het ook gedink dat ek ’n rol in Rudy se keuses gespeel het.

Ek en Fourie du Preez het later jare beste vriende geword, maar dit was nie in daardie stadium die geval nie. Hy het op sy stil manier groot invloed op sy spanmaats uitgeoefen, juis omdat hy so ’n sterk leier is. Daar was geen twyfel waar sy lojaliteit gelê het nie. Hy het geglo Heyneke en Anton moet die span lei en ek kon dit agterkom.

Soms dink ’n mens Fourie is dalk nie baie diplomaties nie, of sy tydsberekening is nie goed nie – dis nou van die veld af! – maar hy is altyd eerlik. In later jare was sy eerlikheid juis iets wat ’n belangrike rol gespeel het in die sukses wat die Bokke en die Bulle behaal het. Dit gebeur gereeld dat mense nie prontuit sê hoe hulle voel nie, dan word daar agter mekaar se rûe geskinder, maar met Fourie daar word sulke dinge dadelik opgelos.

Dit was ook vir my moeilik met Anton daar. Luiperd, soos ons hom genoem het, is ’n ware heer. Hy sal jou nooit voor mense aanval nie en behou altyd sy integriteit. Rudy het Jacques Cronjé bo hom op agtsteman verkies en sommige spelers kon gemeen het dit is ’n manier van my om die ander sterk leier uit die span te hou. Dit was egter nooit die geval nie en later, in 2007, was dit juis een van ons sterkpunte toe Anton deur Heyneke teruggebring is om my as kaptein te ondersteun.

Hoewel Rudy uit verskeie oorde sterk teenkanting gekry het, het ek gemeen dis belangrik dat ’n kaptein sy afrigter ondersteun en het Rudy waar ek kon bygestaan. Heyneke het my lank daarna geprys vir die manier waarop ek daar was vir Rudy in moeilike omstandighede.

Rudy het ook nie vreeslik baie vertroue in Derick Hougaard gehad nie, soos ons in 2002 agtergekom het toe hy Louis Koen op losskakel gekies het. Tydens die Wêreldbeker-toernooi was Louis eers vóór Derick in die Bokry, in ons belangrikste groepwedstryd teen Engeland, maar dit het later in die toernooi verander toe Derick vir die beginspan teen die All Blacks in die kwarteindronde gekies is.

In Pretoria is Derick as die nuwe Naas Botha beskou. Hy was die goue seun, maar Rudy het nie gedink Derick is die regte losskakel vir die wedstrydplan wat hy wou gebruik nie. Hy wou hê ons moet aanvallende rugby speel, terwyl hy Derick as ’n skopper beskou het.

Terwyl Heyneke presies geweet het hoe om Derick aan te wend en hoe om hom op te bou, kon Rudy dit nie doen nie. Of hy wou nie. Derick, op sy beurt, het nie gehou van die soort druk wat Rudy op hom geplaas het nie.

Teen die einde van die Super 12-seisoen is in ’n koerantberig in Rapport beweer dat Rudy Derick probeer saboteer. Die storie was dat hy die spreiligte op die oefenveld afgeskakel het terwyl Derick nog sy skopwerk pale toe wou oefen. Derick se spelpeil was in daardie stadium nie baie goed nie en die hele situasie het ’n groot probleem vir ons geword, tot so ’n mate dat ek dit by die weeklikse perskonferensie nodig gevind het om my sterk ten gunste van Rudy uit te spreek.

Alle strydbyle is daarna begrawe, maar dit was duidelik dat ons nie ’n gelukkige, samehorige span was nie, al het ons weer redelik goed gevaar in die Super 12. Ons het die helfte van ons wedstryde gewen en in een gelykop gespeel, maar die Stormers het beter as ons gevaar en die halfeindronde gehaal. Ons was weer sesde. Een van die hoogtepunte van die seisoen was toe ons die Reds op Ballymore in Brisbane 23-17 geklop het, die Bulls se heel eerste oorwinning in Australië.

Dit was nie vir ons ’n maklike Super 12-jaar nie en hoewel daar baie jakkalsies in die wingerd was, het die manne se geloof in hul vermoëns elke week verbeter.

***

Vroeg in die Super 12 van 2004 is Rudolf Straeuli se opvolger as Bok-breier aangewys: ’n gewese SA onder 21-breier en Springbok-hulpafrigter, Jake White.

Joost van der Westhuizen het sy stewels opgehang en Corné Krige was nie meer vir die Bokke beskikbaar nie, gevolglik het die bespiegeling oor wie die nuwe Bok-kaptein sou wees weekliks toegeneem.

My naam is saam met dié van John Smit, Joe van Niekerk en ook die jong Schalk Burger, toe nog ’n groentjie op toetsvlak maar ’n sterk leier op die veld, genoem. John was die gunsteling, maar hy was nie seker van sy plek in die span nie, met my Bulls-spanmaats Danie Coetzee en Gary Botha wat albei baie goeie rugby gespeel het. Rudy Joubert het my as moontlike Bok-kaptein gesteun, maar dit was nie vir my in daardie stadium belangrik nie.

Toe bel Jake en sê hy wil my ontmoet. Ek het gedink dis om die kapteinskap of my moontlike rol as senior speler te bespreek. Opgewonde oor die ontmoeting het ek deurgery Johannesburg toe. Ons het by ’n hotel in Sandton ontmoet. Jake het weggeval, in die volgende trant: “Dis ’n baie belangrike vergadering dié. Ek wil hê jy moet weet dat jy deel van my planne is. Maar,” voeg hy toe by, “as jy deel van die span wil wees, sal jy jou hare moet sny en jou houding verander.”

Het ek reg gehoor? Hier sit ek en dink hy wil met my oor my rol in die span of sy planne vir die Bokke praat – en hy kla oor my hare! Ek kon my ore nie glo nie en het gevra hy moet verduidelik.

“Dis vir my duidelik dat jy jouself altyd op die ‘regte plek’ posisioneer as foto’s geneem word en dat jou beeld vir jou te belangrik is.” Dis ook verspot dat ons in frokkies oefen, het hy gesê – ’n klaarblyklike verwysing na my en Jaco van der Westhuyzen wat so hard in die bloedige hitte van Pretoria geoefen het.

“Het jy al ooit ’n internasionale voorspeler met lang hare gesien?” wou Jake weet. Nie waaraan ek dadelik kon dink nie, maar ek was bereid om die eerste te wees, het ek gedink. Wat het die lengte van my hare te doen gehad met hoe ek rugby speel? het ek gewon-der. Hy hou nie van my lang hare nie en ek kom voor as iemand wat net vir die toeskouers speel, was Jake se klagte.

Ons het nog ’n bietjie gesels en toe het ek maar in my kar geklim en huis toe gery. Heel eerste het ek vir Monja gebel om my lot te bekla. Dit was buite die kwessie dat ek my hare sou sny. Nog iemand met lekker lang hare was Schalk Burger. Ja, Jake het met hom ook oor sy hare gepraat, maar nie so ernstig nie, vertel hy toe ek hom bel. Sy hare was seker korter as myne. Hy was ook nie van plan om sy lokke te laat knip nie.

Nietemin het ek en Schalk die span vir die eerste toets teen Ierland gehaal, met lang hare en al. Ek het wel my hare voor die oefenkamp in Bloemfontein effens korter laat sny, maar toe ek daar aankom, wou Jake weet hoekom ek dit nie kort gesny het nie.

“Maar coach, ek hét dit gesny.” As hy my nie wou kies nie, en dít oor my hare, was hy welkom om dit te doen, het ek bygevoeg.

Kort hierna is ek en Jacques Cronjé deur Jake en Arthob Petersen, ons spanbestuurder, ingeroep. Wat kon dit nou weer wees? het ek gewonder.

Dié keer was die geneul oor ons bakkebaarde. Ek het sulke lekker “chops” op my wange gehad, maar Jake en “Mr P” het niks daarvan gehou nie en gesê ons kan nie só vir die Bokke speel nie. Hoewel ek gedink het dis belaglik, het ek dit om vredeshalwe maar afgeskeer.

Só het my verhouding met Jake begin. Oor die volgende vier jaar sou daar nog baie stampe en stote wees.

Ten spyte hiervan was ek en die ander spelers opgewonde oor die veranderinge by die Bokke ná alles wat in 2003 gebeur het. Jake het die regte spelers gekies en dit het gevoel asof ons in die regte rigting beweeg. Hy en sy hulpafrigters, Gert Smal en Allister Coetzee, het breedweg eenders gedink; ons is goed afgerig en die nodige strukture is gevestig. Ons kon agterkom die afrigters het agter die skerms baie hard gewerk en was goed voorberei op wat in 2004 op ons sou wag.

Die hele Bok-groep het op die eerste dag bymekaargekom en basiese reëls neergelê terwyl ons vir die seisoen beplan het. Daar was groot ooreenkomste met Heyneke se werkwyse destyds by die Bulle. Jake wou aanvanklik ook vir die Bokke streng reëls oor persoonlike gedrag neerlê (seker omdat hy voorheen merendeels onder 21-spelers afgerig het), maar John Smit, die nuwe Springbok-kaptein, ek en van die senior spelers was daarteen gekant.

Ons het in 2003 gesien jy moet grootmense nie soos kinders behandel nie. Dié soort ding verander mense in robotte en dit sou nie die gewenste uitwerking hê nie. Daar was wel ’n paar riglyne en spanreëls, maar oor die jare, namate ons as span gegroei en meer volwasse geword het, het die reëls al hoe minder geword. Jake het ook besef hoe belangrik dit vir die spelers is om hul families en geliefdes in die nabyheid te hê en het dit toegelaat.

Die groot ding wat Jake reggekry het, was om ons almal weer die waarde van die Bok-trui te laat besef. Dis nie dat ons dit uit die oog verloor het nie, maar ná 2003 was ’n klomp van ons ontnugter en dit was noodsaaklik om almal weer aan die waardes van Springbok-rugby te herinner.

Jake het twee Springbok-legendes teruggebring wat jare lank in die rugbywildernis was: Os du Randt wat vyf jaar tevore uitgetree het en Percy Montgomery wat in Wallis gaan klubrugby speel het.

Tydens die eerste week in Bloemfontein het Henning Gericke, ons kopdokter, ons in ’n kring laat sit en elkeen moes sê wat die Bok-trui vir hom beteken. Toe dit Os se beurt was, het hy net stil geraak en toe ons weer sien, stroom die trane oor sy wange. Dié Bok-legende, wat die Wêreldbeker al in 1995 help wen het, het die Bok-trui so gemis in die jare sedert sy uittrede dat hy nie sy emosies kon beteuel toe hy die trui weer vashou nie.

Ná al die “sideshows” van 2002 het ons weer besef waaroor dit werklik gaan. Saam met John en Os het Jake en Henning ons almal weer diep trots daarop gemaak om Bokke te wees.

Die ander sterkpunt van Jake was sy deeglikheid. Sy oefensessies was presies uitgewerk en hy het geweet wat hy wou bereik. Die spelpatroon wat hy wou invoer, was gegrond op die Australiërs s’n, veral die Brumbies van wie hy geglo het dat hulle die bes afgerigte span in die Super 12-kompetisie was. “As ons met daardie soort struktuur kan speel, sal ons ook sukses-vol wees,” het hy gereeld gesê.

Ons het onder Rudolf redelik goed gevaar sonder enige noemenswaardige spelpatroon; dink net hoe goed gaan ons mét ’n plan vaar, was die boodskap.

Jake het ook ’n sterk ondersteuningspan gekies. Allister Coetzee en Gert Smal, wat ook in 2003 saam met ons was en met wie ek ’n uitstekende verhouding gehad het, was die hul-pafrigters. Henning was ons sielkundige en het ons gehelp om fiks te word en te bly, terwyl doktor Derik Coetzee ons kondisionering gedoen het.

Derik veral het geen nonsies geduld nie. As dit gelyk het of jy te veel weeg, het hy jou gal gewerk tot jy weer jou ideale gewig bereik het. Hy het alles baie wetenskaplik benader en almal is gemeet, geweeg en getoets sodat hy presies geweet het wat jou kondisie was en of dit ideaal was.

Jake het ook nie geskroom om jong manne te kies wat op onder 21-vlak onder hom goed gevaar het nie. Fourie du Preez, Jacques Cronjé, Ashwin Willemse, Jean de Villiers, Juan Smith, Pedrie Wannenburg en Schalk Burger was almal in 2002 lede van Jake se SA-span wat die Internasionale Rugbyraad (IRB) se Wêreldbeker vir onder 21’s gewen het.

Die spangees was stukke beter as onder Rudolf, en John tesame met Jake het ’n groot rol daarin gespeel. John wou seker maak ons beleef nie weer die katastrofes van 2003 nie.

In 2003 het ek agtergekom sommige spelers in die Bok-span verdien heelwat groter salarisse as die res van ons; ouens wat waarskynlik goed na hulself omgesien het ten koste van die ander lede van die span. John was nie so ’n ou nie. Van die eerste dag af sou hy nooit iets aanvaar het wat hom tot voordeel gestrek en die ander ouens benadeel het nie. Wat die een gekry het, moes almal kry.

Hy was ’n belangrike tussenganger tussen Jake en ons ouens van die Bulle. Ons was ’n hegte eenheid en groot vriende, maar Jake het dit blykbaar as ’n bedreiging ervaar. John het hom oortuig om ons nie te wantrou nie en dat ons onontbeerlik vir die span is. Jake kon nie verstaan, of het nie daarvan gehou dat die Bulle die hele tyd dinge saam doen nie. Met etes het ons altyd bymekaar gesit, ons het saam uitgegaan en ook kamers gedeel. Dit was vir ons natuurlik in ’n span met ’n unieke dinamika.

“Dis hoe hulle is. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Hulle sal hul kant bring,” was John se raad aan Jake.

Met ’n sterk Ierse span wat in Suid-Afrika kom toer het, het ons die eerste keer ’n ordentlike wedstrydplan gehad en ons was goed voorberei. Hoewel die nare 2003 nog in ons agterkop was, was ons opgewonde oor die vooruitsigte.

Ons het ’n missie gehad. En ’n vierjaarplan. Dit was om die Wêreldbeker in 2007 in Frankryk te wen. Jake het geweet baie dinge sou intussen gebeur, maar al wat vir hom belangrik was, was om ’n span te bou wat die Webb Ellis-beker kon terugbring Suid-Afrika toe.

Ons het goed gespeel teen Ierland en Wallis, en het al drie toetse maklik gewen: 31-17 en 26-17 teen die Iere in onderskeidelik Bloemfontein en Kaapstad, en 53-18 teen die Walliesers in Pretoria. In die toets teen die Rooi Drake op Loftus het ek my regterknie beseer, met die Drienasies-toernooi net om die draai. Ek is egter saam Australasië toe en was reg vir ons wedstryd teen ’n gekombineerde span van die Suidsee-eilande in Sydney.

Kort voor lank het ek en Jake weer vir mekaar gegrom.

Een van die redes daarvoor was ’n eis wat ek teen SA Rugby ingestel het. Jake het niks daarvan gehou nie en het my daaroor aangevat. Dit het daaroor gegaan dat ek, Christo Bezuidenhout en Richard Bands in 2002 deur Rudolf nasionale kontrakte beloof is, maar dit het nooit gematerialiseer nadat hy bedank het nie. Na ons mening het die Bok-afrigter ’n belofte gemaak en ons wou hê SA Rugby moet dit eerbiedig.

Voor die toets teen Wallis het Jake my ingeroep en gesê ek moet die saak laat vaar, want ’n mens behoort nie jou werkgewer hof toe te sleep nie. Ek was die enigste van die eisers wat toe nog vir die Bokke gespeel het en het geweier om dit te los. Dit het in elk geval niks met Jake of my toewyding tot die Bokke te make gehad nie. Ons het uiteindelik die saak op appèl verloor en het nooit die beloofde kontrakte gekry nie. Niemand in die Bok-groep het in 2004 kontrakte gekry nie, net “squad assembly fees” as jy deel van die oefengroep was.

Henning het agtergekom iets haper en het voor die wedstryd teen die Suidsee-eilande ’n vergadering tussen my en Jake gereël om die lug te suiwer. Dit was ’n goeie geleentheid om eerlik met mekaar te wees. Toe praat ek sommer oor alles: Jake se mening oor hoe belangrik ek my beeld ag; dat my hare lank is omdat ek en Monja so daarvan hou; dat ek nie probeer aandag trek nie, en ook dat hy Os die onderkaptein gemaak het teen Wallis, terwyl ek dié rol altyd in oefeninge vertolk het.

Jake was nie baie gelukkig oor my mededelings nie. Hy het gesê ek sal nooit met sulke lang hare onder hom ’n Bok-kaptein kon wees nie.

Daar was nie veel waaroor ons saamgestem het nie, maar ons het dinge so goed as wat ons kon uitgepraat.

Die volgende oefening het egter weer tot onmin gelei. Ek is op my seer knie geduik en dit het ontsettend gepyn. Ek het dié knie al voorheen beseer en het geweet hy sal gou reg wees. Net die volgende dag het ek voluit op die trapmeul gehardloop en het gevoel ek is reg om te speel. Ons spandokter, dokter Yusuf Hassan, het egter nie saamgestem nie.

Jake het na die dokter geluister en my huis toe gestuur.

Daar was ’n klomp stories, ook in die koerante, oor waarom ek na Suid-Afrika moes terugkeer. Van my spanmaats het gesê Jake se redes het niks met my knie uit te waai gehad nie.

Ek is op ’n vliegtuig gesit en is terug Pretoria toe waar ek dadelik by die Blou Bulle ingeval en daardie naweek teen die Leeus gespeel het. Ek wou vir Jake ’n punt bewys en hy wou seker sien of hulle sonder my kon klaarkom.

Al moet ek dit self sê, die Bokke het sonder my in veral die lynstane swaar geleef. Maar dis ook waar dat my gemoed nie goed was nie. Ek het teen die Leeus nie waffers gespeel nie en op dieselfde dag het die Bokke 21-23 teen Nieu-Seeland in Christchurch verloor. En in Johannesburg het ons 33-36 teen die Leeus verloor.

Daardie Maandag het Heyneke my ingeroep en gesê ek moet die week af vat om my kop skoon te kry. Ek en Monja is Pilanesberg toe om weg te kom van rugby en al die stories wat oor my vertel is.

Dit was egter vir my onmoontlik om heeltemal van rugby te ontsnap en gelukkig het Monja dit verstaan. Sy het my gehelp om ’n bed voor die televisie te maak en ons het die dag saam na vier wedstryde gekyk: die Bokke se toets teen die Wallabies én drie Curriebeker-wedstryde.

Ek was teen die planke. Die probleme tussen my en Jake kon ek nog hanteer, maar dit het gevoel asof Heyneke my gepos het en dit het my baie seergemaak. Dit was ’n slegte tyd in my lewe.

Al het die Bokke ook teen die Wallabies net-net verloor (26-30), het hulle tog goeie rugby gespeel. Die lynstane was egter ’n fiasko en dit het my laat hoop dat Jake my nog ’n kans sou gee.

Heyneke het besluit om in te gryp. Toe die Bokke terug is in Suid-Afrika, voor die tuistoetse teen die Wallabies en die All Blacks, het hy ’n vergadering tussen my, hom en Jake gereël.

Jake het weer dieselfde stories opgehaal en dieselfde klagtes gehad, oor my hare en my houding. Ek het my kant van die saak gestel: dat Jake my nie regtig ken of verstaan nie.

Toe was dit Heyneke se beurt. Hy het vir Jake gesê my werketiek is bo verdenking en dat ek meer moeite doen as enige ander speler wat hy ken. Ek was nogal trots daarop en bly dat hy Jake op sy plek gesit het.

Maar toe draai hy na my en sê: “Jake se mening oor jou is nie heeltemal verkeerd nie, Victor. Jy ry altyd die nuutste en blinkste karre, trek altyd anders as die res van die span aan en hou van die kollig.”

Ek was onthuts, maar dit was ’n oomblik van waarheid. Vir die eerste keer in my lewe het ek besef dis waar: ek hou van aandag. Al die bewyse was daar. Ek het ’n goudgeel Nissan 350Z-sportmotor gery, sonder ’n hemp in tydskrif-advertensies verskyn en het altyd anders probeer wees.

Dáár het ek besef dat ek soms die minste moet wees. Die gesprek het my verander en geleer om aan te pas by ander mense en nie net my eie kop te volg nie.

Hierna het Jake my vir die tuistoetse in die Drienasies gekies, waaroor ek baie bly was. Ons kon nou in alle erns begin voorberei vir die All Blacks op Ellispark. Die meeste van ons in die destydse Bok-span het nog nie die vreugde van ’n oorwinning oor die Kiwi’s gesmaak nie, maar ná die naelskraapse nederlaag in Christchurch ’n paar weke vroeër, was ons reg vir hulle.

Voor ons kon opdraf, het ’n ander kwessie opgeduik. Die nuwe Suid-Afrika was nog net 10 jaar oud en rugby moes ook by die veranderende politieke klimaat in die land aanpas. Sedert die laat 1990’s was transformasie en kwotas op almal se lippe, al het Saru gesê dit bestaan nie regtig nie. Ons het geweet dis nie waar nie.

Teen die Dinsdag in die week voor die toets was Fourie du Preez nog in die span, maar later in die week is hy uit die bloute deur Bolla Conradie vervang. Ons het geweet dis ’n kleurkeuse, veral omdat ons in Suid-Afrika gespeel het.

Fourie was uiteraard baie ongelukkig en teleurgesteld, maar as rugbyspelers in Suid-Afrika het ons ook besef dat dit deel van die spel is. Dis makliker as dit jou nie persoonlik raak nie, maar dis vir enige jong speler wat nog min vir die Bokke gespeel het, ’n groot teleurstelling om kort voor ’n toets te hoor jy speel nie meer nie. Boonop was dit nie te wyte aan iets wat jy self gedoen het nie; dis net ’n realiteit van die land.

Gary Botha was in dieselfde bootjie. Hy het in dieselfde posisie as die Bok-kaptein John Smit gespeel, maar Jake het Hanyani Shimange as die reserwe-haker gekies. Gary het bril-jante rugby gespeel en almal het geweet Hanyani is net daar om “die syfers te laat klop”.

Dis ook nie regverdig teenoor die bevoordeelde speler nie, want daar word verwagtinge geskep waaraan moeilik voldoen kan word. Bygesê, ’n mens kan nie veralgemeen nie, want oor die jare was daar baie swart spelers wat wel aan die verwagtinge voldoen het en dit selfs oortref het.

Fourie was toe op die bank teen Nieu-Seeland, maar hy het speeltyd gekry in een van die beste Springbok-wedstryde waarin ek tot in daardie stadium gespeel het. Mils Muliaina het vroeg ’n drie gedruk, maar daarna was daar net een span op die veld. Marius Joubert het dié dag drie drieë gedruk en ons was met 40-26 baas. Dit was ’n fantastiese gevoel om die All Blacks te klop.

’n Mens daag nie net op en klop die All Blacks nie. Ek het sedert 2001 tot voor dié wed-stryd sewe keer agtereenvolgens teen hulle verloor. Ons het in die Super 12-reeks ook teen die Nieu-Seelandse spanne gesukkel.

Skielik was al wat tussen ons en die Drienasies-kroon gestaan het, die Wallabies.
In die wedstryd teen hulle in Durban het ek my vyfde toets-drie gedruk. Daardie drie, kort ná lemoentyd, is later deur die rugbyskrywers as die beste van 2004 aangewys. Dis iets waarop ek geweldig trots was, al het ek die beweging eintlik net afgerond.

Breyton Paulse het die bal hoog geskop en dit teruggeklap na ons kant toe voordat Chris Latham, die Wallaby-heelagter, daarby kon uitkom. Die bal het reggespring vir my en ek kon deurhardloop om te druk. Niemand dink natuurlik aan goed soos toekennings wanneer jy ’n drie druk nie. Jy wil net terugdraf middellyn toe en kyk of die span nog een kan kry, wat ons toe wel vermag het toe Joe van Niekerk ’n paar minute later in die ander hoekie oor is.

Boonop het ons Australië se lynstaan daai dag verwoes en 23-19 gewen. Daarmee het Suid-Afrika vir die tweede keer die Drienasies-kampioene geword en kon ek vir die eerste keer Drienasies-glorie proe.

Dit was net ’n maand nadat ek gevoel het my lewe val uitmekaar – nou kon dinge nie beter gaan nie.

***

Ná die euforie van die Drienasies-oorwinning is ek, Bakkies Botha, Jacques Cronjé en Fourie du Preez dadelik terug na die Bulle toe. Ons kon nie wag om by die Curriebeker-span in te val nie, al het ek toe darem al die een wedstryd teen die Leeus gespeel. As tweemalige kampioen was daar groot druk op die Bulle om die beker vir die derde agtereenvolgende keer te verower.

Twee wedstryde van die 2004-seisoen wat my bybly, is die halfeind- en die eindstryd. Ons het in die halfeindstryd teen die Leeus op Loftus gespeel en redelik maklik gewen, al was die punteverskil van 40-33 nie groot nie. Die Vrystaat het hul halfeindstryd teen die verwagting in teen die Westelike Provinsie op Nuweland gewen (17-11) en moes Loftus toe kom vir die eindstryd.

Die Bulle was dié dag onstuitbaar en ek het ook ’n drie gedruk. Ettienne Botha was een van ons groot uitblinkers. Hy het twee drieë gedruk en het die Vrystaters met sy systappe de-urmekaar gehardloop. Ek was baie bly om my ou kamermaat se onthalwe en nog blyer toe ons 42-33 wen. Dit bly vir my een van ons beste vertonings in ’n eindstryd.

Ons het dit toe nog nie geweet nie, maar dit was Ettienne se laaste eindstryd. Dit was ook Rassie Erasmus se laaste wedstryd as Cheetah-speler en kaptein.

Vir dié van ons wat weens die Wêreldbeker-toernooi in 2003 die Bulle se Curriebeker-verowering misgeloop het, was dit ongelooflik om weer deel van die Bulle-familie te wees. Heyneke se planne het vrugte afgewerp en ons het ons rugby geniet. Die genot-faktor was die belangrikste van alles.
Boonop het ons van Loftus weer ’n bondgenoot gemaak en die skares teruggelok nadat die pawiljoene teen die draai van die eeu maar leeg was.

***

’n Groot uitdaging het aan die einde van 2004 op die Bokke gewag: ’n Grand Slam-toer teen Wallis, Ierland, Engeland en Skotland, en ’n laaste wedstryd in Buenos Aires teen Argentinië. Dit was ’n lang toer, maar een waarvoor ons kans gesien het ná die Drienasies-oorwinning ’n paar maande tevore.

Jake White het hier en daar veranderinge gemaak en ’n paar nuwe spelers gekies vir dié toer, waarvan een, ’n jong vleuel met die naam Bryan Habana, reeds ’n kontrak met die Bulle gesluit het vir 2005.

Die November-toere is altyd moeilik. ’n Mens het gewoonlik net ’n week om jouself reg in te stel ná die Curriebeker-uitkloprondes en die meeste van die spelers in die toerspan speel gewoonlik in daardie wedstryde. Dis moeilik om jou gemoed ’n hupstoot te gee vir so ’n toer, maar ons titel as Drienasies-kampioene het ons bykomende oemf gegee.

Elke Suid-Afrikaanse rugbyspeler sal altyd in sy hart ’n spesiale plek vir die Curriebeker-reeks hê. Om daarna in die koue op die Britse Eilande te gaan speel is nooit maklik nie. Nog-tans het ek uitgesien na die toer, want dit was my eerste sedert 2001 en dit het gelyk asof dinge tussen my en Jake beter gaan.

Ons eerste wedstryd was teen Wallis in Cardiff en ons moes baie hard werk om 38-36 te wen. Dit was nie ’n vertoning waarop die Drienasies-kampioene trots kon wees nie, maar ’n oorwinning is ’n oorwinning, en ons kon regmaak vir Ierland.

Die Iere was omgekrap nadat ons hulle vroeër die seisoen twee keer in Suid-Afrika afge-stof het. In die week voor die toets het die Ierse joernaliste ook ’n strik vir Jake gestel waarin hy toe getrap het. Hulle wou weet hoeveel van hul spelers die Bok-span sou haal indien hy hulle kon oorweeg.
“Dalk ’n slot en ’n senter,” het hy gesê.

Dit was die verkeerde antwoord. Hy het die Iere daarmee skietgoed gegee en my ook van voor af omgekrap, want die slot na wie hy verwys het, Paul O’Connell, was my direkte teen-stander. Ek het gevoel dat ek in Jake se oë steeds nie goed genoeg was nie.

Dit was ’n eienaardige wedstryd teen die Iere. Op ’n kol het die skeidsregter, Paul Honiss van Nieu-Seeland, ons naby ons doellyn gestraf en vir John gesê om met ons te praat. Ons het bymekaargekom ... en daar laat Honiss die Iere toe om voort te speel! Ronan O’Gara, hul losskakel, het ’n vinnige tikskoppie gevat en oor die doellyn geseil sonder dat iemand aan hom geraak het.
Ons het 12-17 verloor en was kwaad, teleurgesteld en verward. Hoe kon Honiss dit doen? As ’n span het ons ver gevorder, maar ons was dalk nog nie uitgeslape genoeg nie.

In die wedstryd teen Engeland het ons nóg ’n les geleer, en ek het gehoop Jake ook. Dit was op Twickenham en ons eerste besoek aan Londen sedert 2002 se reuse-nederlaag. Jake se plan was dat ons so vinnig moontlik speel en die bal lug gee, met ander woorde Super 12-rugby. Hy wou nie gehad het ons moet te veel voorspelers na die afbreekpunte stuur nie.

Maar dit was nat en koud. Die Engelse het ons flenters gespeel, veral voorlangs, waar ons nie opgewasse was teen hul groter getalle by die afbreekpunte nie. In nat toestande is dit belangrik om een of twee meer spelers by die afbreekpunte te gebruik omdat die bal stadiger uitkom. Die Engelse het maklik gewen en die telling was ’n redelik eensydige 32-16.

En wat sê Jake agterna aan die media? “It was like boys playing against men.”
Hoe was dit moontlik dat dieselfde “seuns” vroeër die jaar met die All Blacks kon afreken? Die feit was dat Jake die verkeerde wedstrydplan vir die speeltoestande gekies het, en dit was ons ondergang. Om die spelers te blameer was die maklike uitweg.

Die laaste wedstryd in Brittanje was teen Skotland, ’n span teen wie ons ook in 2002 ver-loor het, maar wat ons gewoonlik nie veel probleme besorg het nie. Die Grand Slam was daar-mee heen en ons was nie baie gemotiveerd nie, maar Jaco van der Westhuyzen was daardie dag uitstekend en het ’n drie en drie skepdoele behaal. Ons het 45-10 gewen.

Voor ons Argentinië toe is (waar ons 39-7 gewen het), het ons skoonskip gemaak met die Internasionale Rugbyraad se toekennings. Die Springbokke was die Span van die Jaar, Schalk Burger was die Speler van die Jaar en Jake die Afrigter van die Jaar.

Dit het ook ’n klein insidentjie opgelewer. Fourie, wat nie skaam was om sy sê te sê nie, het sonder om te blik of te bloos vir Jake gevra: “Het jy al vir Victor dankie gesê?” Jake wou weet waarvoor.
“As Victor nie in die laaste twee Drienasies-wedstryde teruggekom het nie, sou jy nooit af-rigter van die jaar gewees het nie,” het Fourie hom geterg.

Dit was ’n grappie, met ’n stekie daarby, maar Jake het dit nie ligtelik opgeneem nie. Hy het net omgedraai en weggestap.

Uit die Bokke se perspektief kon 2004 nie met die vorige jaar vergelyk word nie. Die spankultuur was soveel beter, ons is soos grootmense behandel en daar was struktuur in ons spel. Jake en die bestuurspan het geweet wat hulle doen; dit was baie anders as die vorige jare.

Spankeuses was bestendig. Waar Rudolf omtrent elke week ’n nuwe span gekies het, het Jake geweet wat hy wil doen en hoe om balans in die span te skep. Hy het daarby gehou en so min moontlik veranderinge aangebring. Rudolf het in een jaar nie minder nie as 48 spelers vir Suid-Afrika gekies, maar Jake het by ’n kerngroep van sowat 23 spelers gehou, terwyl hy in geheel 41 Bokke gekies het van wie 10 net op die jaareind-toer in aksie was.

Jake het geweet die enigste manier waarop Suid-Afrika die Wêreldbeker in 2007 kon wen, was om met ’n ervare span na Frankryk op te ruk. Hy het in 2004 reeds aan dié span begin bou.