Hildegardt Whites is sedert 2010 op die kassie as Bonita in 7de Laan te sien, maar aktrise-wees is nie haar enigste liefde en talent nie. SARIE.com het met haar gesels.

Toe Hildegardt op 'n Sondagmiddag een van haar vriende se nuwe opname-ateljees wou uittoets, sou sy nooit in haar wildste drome kon dink dat die reaksie op haar "speel-speel"-musiekvideo só positief sou wees nie. Sy en haar man, Kuba, het toe besluit om iets van haar sangtalent te maak. Hulle het begin liedjies skryf en Kuba, self ook 'n musikant, het dié liedjies getoonset.

hildegardt_en_kuba_1-570x427 Hildegardt en haar man Kuba
(FOTO: Verskaf)

Hildegardt se droom is om haar eie album op te neem. Al het sy reeds 'n paar liedjies vir dié album, sal dit nog 'n hele ruk neem voordat die album op die rakke verskyn. "Die droom is om binne die volgende jaar die CD op die rakke te hê, maar dit is omtrént 'n proses. Ons het al 'n paar liedjies bymekaar, en dis meestal Afrikaanse liedjies. En natuurlik is die liedjie wat my man vir my op ons troue gesing het ook op my liedjie-lys."

Troukoors loop hoog in die Laan

Haar liefde vir musiek kom al van kleins af, omdat sy in 'n baie musikale huis groot geword het. "Ek is mál oor musiek en dit maak my regtig gelukkig. Musiek is vir my 'n passie en al sal ek op die ou-end dalk 'n lewe daarvan kan maak, is dit die passie daarvoor wat my laat besluit het om iets van my sangtalent te maak." Hildegardt het 'n groot liefde vir blues- en jazz-musiek en daarom het sy ook op dié musiekstyl vir haar album besluit. Die sangeres Adele is haar musiek-inspirasie en sy sal graag soortgelyke liedjies wil sing. "Adele se musiek is diep en kom uit die hart. My musiek kom ook uit my hart en dit is hoekom ek diep-musiek wil sing."

"Bonita" gaan darem nie binnekort die 7de Laan-span verlaat nie. "Dis nog heeltemal te vroeg om te sê of ek my loopbaan as aktrise vir my sangloopbaan sal verruil. Ek het nog nie eintlik so ver gedink nie - ek geniet die 7de Laan-span en die musiek-ding is nog baie "jonk". Rome is nie in een dag gebou nie, so ek gaan niks vooruit hardloop nie."

7de Laan vier 3 000ste episode

Hildegardt en haar man, Kuba, is in Maart 2012 in die Weskus getroud, maar op die vraag wanneer ons 'n pienkvoet kan verwag, het sy laggend geantwoord: "Ons is nie hastig vir kinders nie, en intussen is ons baie lief vir ander mense se kinders. Maar as die Here nou al vir ons 'n kleinding wil gee, sal ons baie opgewonde en geseënd wees."

Kyk hier na haar musiekvideo: