Joost van der Westhuizen is die nuutste celeb wat aan die #ALSIceBucketChallenge deelneem. Die nuutste op sosiale media is die #ALSIceBucketChallenge. Dié uitdaging behels om ’n video van jouself te neem terwyl jy of iemand anders ’n emmer yswater oor jou kop gooi. Die veldtog wil bewustheid skep vir amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ook bekend as motorneuronsiekte (MNS). En al wat ’n bekende is, neem deel hieraan - van Lady Gaga en Ben Affleck tot SA se Katlego Maboe. En nou het Joost, wat aan MNS ly, ook dié uitdaging aanvaar.

Joost lewe sedert 2011 met MNS en het die J9-stigting begin om bewustheid oor MNS te kweek en geld in te samel vir navorsing. In dié stadium is daar nog nie ’n middel teen die siekte nie.

Joost se #ALSIceBucketChallenge

Soos met ander virale veldtogte moet jy nadat jy dié uitdaging aanvaar het, vriende benoem om dieselfde te doen. As jy nie bereid is om dit te doen nie, moet jy geld aan MNS-navorsing skenk, hoewel diegene wat kans sien vir die yswater ook skenk. Joost het al die Springbokke, die Brumbies en die All Black-span uitgedaag om dié uitdaging te aanvaar. Die veldtog het volgens die Los Angeles Times in Boston, Amerika, begin toe die 29-jarige Peter Frates met MNS gediagnoseer is. Die yswater oorgooi is ’n ritueel ná bofbal-wedstryde – ’n sport waarin Peter uitgeblink het.

Fliek oor Joost

’n Nuwe fliek oor Joost se lewe, Joost: Spel van glorie, word tydens die Silwerskermfees bekend gestel. SARIE.com het vroeër die week die lokprent van dié fliek eerste met ons lesers gedeel - kyk daarna HIER. In die fliek vertel Joost self sy lewensverhaal – hy praat oor sy sportloopbaan, sy gesin, die seksskandaal en sy lewe met MNS.

Kyk na die lokprent van Joost: Spel van glorie HIER