Dag 18, 18 Junie 2013

Die kampplek by Kisumu was nou nie juis die beste waaraan jy kan dink nie. Verbasend was die stort warm water. Maar hoe minder ons verder van die plek sê, hoe beter. Dit was eens, lank, lank gelede, 'n fantastiese plek.

Ons is in dorp toe. Ons moes bietjie voorrade gaan aanvul. Ek verstaan diesel is heelwat duurder in Uganda. Dis hoekom ons sommer ook weer die tenks volgemaak het. Toe vat ons die pad, noordwes.

Eerste stop was die ewenaar. Ons is nou al byna drie weke op reis, en ons was nog nie by die ewenaar nie. Daarom is dit die eerste mylpaal op vanjaar se reis.

In Kenia word daar nie juis ’n ophef gemaak van die ewenaar nie. Daar is bloot 'n aardbol wat opgerig is deur die Lions-klub van Nairobi. Verder is daar een stalletjie wat snuisterye verkoop. Net een van hulle het die woord Equator opgehad. Nogal vreemd. Ons het gedink hulle sou veel meer daarvan maak. Maar ons is oor die ewenaar, die Noordelike Halfrond in. Dis nou natuurlik nadat ons die gebruiklike foto geneem het.

Die volgende stop was geskiedkundig van veel groter belang. President Barack Obama van die VSA se pa was van Kenia. Hy het in die VSA gaan studeer, Obama se ma ontmoet en Barack is gebore. Sy ouers is later geskei en hy is deur sy ouma en oupa aan moederskant grootgemaak. Ná sy ouers se egskeiding het hy sy pa nog net een keer gesien. Sy pa is later terug Kenia toe, waar hy in 1969 in 'n motorongeluk dood is.

Obama se ouma aan vaderskant, Sarah, lewe vandag nog. Sy is 91 jaar oud en haar huis staan byna op die ewenaar, nie te ver van Kisumu af nie. Ons het haar gaan besoek.

Die besoek het lank geduur. Eers moet ons toestemming by die polisie kry. Daarna is ons toegelaat om haar te groet. Geen foto’s of video nie. Net gesels. Vertel wie en wat ons is. Waar ons vandaan kom. Waarheen ons op pad is. Daarna vertel sy ons van haarself. Sy is van die Luo-stam, en sy is 'n Moslem, soos Obama se pa ook. Nadat Barack president geword het, het die hele streek se weeskinders na haar gestroom, want hulle het gedink sy behoort nou mos baie geld te hê. Vandag het sy 'n reuse-weeshuis en kry donasies van dwarsoor die wêreld. Bitter min daarvan kom van die VSA.

Obama het nog nie sy ouma besoek sedert hy president geword het nie. Hy was wel in 2006 vlugtig by haar aan. Maar sy kan nie Engels praat nie, en hy nie Luo nie. Hulle is wêrelde van mekaar. Tog is dit merkwaardig dat sy wortels in dié klein dorpie op die ewenaar in Kenia lê. Dis duidelik – daar is potensiaal in elke mens.

Aan die einde van die besoek is ons toegelaat om ‘n foto te neem, en ook die graf van Barack Obama se pa te besoek.


Ná die besoek aan Sarah Obama is ons verder na die Busia-grenspos. Gewoonlik is dit 'n maklike een, maar nie hierdie keer nie. Eers moes ons in Kenia padbelasting betaal. Jy kry net die eerste week gratis, en daarna is dit $20 per voertuig. Terwyl ek dit betaal, arresteer hulle Pierre omdat hy rook - en dit by seker een van Afrika se vuilste grensposte.

Aan Uganda se kant het dit nie veel beter gegaan nie. Ons moet derdeparty-versekering uitneem. Ek weet die koste is KS3 000 per voertuig (bietjie meer as R300), maar toe vra hulle ons KS28 000. Uiteraard het ek geweier om dit te betaal. Alles het tyd gevat. Uiteindelik het ek KS3 000 per voertuig betaal. Toe kon ons verder.

Die pad se toestand was uitstekend, maar daar was baie verkeer. Dit het ons meer as twee uur geneem om tot by Jinja, skaars 120 km daarvandaan, te vorder. By Adrift het ons vir Riaan en Winnie ontmoet, en toe saamgery Wild Waters toe. Dit het 'n laat aand geword. Die 19de is Riaan se verjaardag en hy was vasbeslote dat ons op sy verjaardag moes braai. Daarom moes ons wag tot 12-uur. Die wors en filet, saam met allerlei slaai, was heerlik.

Ons praat weer. Mooi loop

Johan Badenhorst

**Dié foto van die Obama-gesin is op Michelle Obama se Twitterblad gedeel

Die Obama-gesin 'n paar jaar gelede