SIEN ALLE VOORBLADGESIG-INSKRYWINGS Só skryf sy: "Daar tref ’n tsoenami in die kleine ons toe. Skaars het SARIE aangekondig dat ’n leser een van ons glansvoorblaaie vanjaar gaan haal en die inskrywings begin instroom. Vir ’n oomblik herinner dit ons aan die 80’s en 90’s toe ons ’n soortgelyke wedstryd aangebied het en duisende vroue ingeskryf het. Vir óns was dit ewe opwindend, want ook ons vergeet soms watter voorreg dit is om te pryk op die voorblad van ’n glanstydskrif soos SARIE, wat natuurlik net 12 voorblaaie per jaar het. Dié keer is die opwinding ewe groot, maar tog is daar iets anders ... Tussen al die gejuig oor die wedstryd deur is daar briewe waarin lesers kapsie maak teen die ouderdomsperk van 18 tot 30. Nie oor die 18 nie, maar oor die 30. Duidelik het ons vroue bo 30 se begeerte om op SARIE se voorblad te wees heeltemal onderskat. En toegegee, vir ’n oomblik het ek uit die oog verloor dat ouderdom nie saak maak nie – iets wat ek tog dikwels sê, ook in hierdie redakteursbrief, en onwrikbaar glo. Kommentaar soos “Ek is 40+ en ek dink ek staan ’n kans vir só ’n fantastiese geleentheid”, “Anna-Mart is in my ouderdomsgroep en sy is die beste van al SARIE se voorblaaie”, “Ek het pas 40 geword ... en om dit te maak tot op SARIE se voorblad sal die cherry op die koek wees!” en “’n Mooi vrou is mooi, klaar en uit, of sy nou jonger of ouer is”, “Ek is net oor 30, maar ek sal enige 30-jarige en jonger ’n go gee!”, het my midde-in die herrie tog laat glimlag. Want dit beteken net een ding: Vroue vandag – wel, vir seker SARIE-lesers – voel goed oor hulself en het oorgenoeg selfvertroue om op ’n voorblad te wíl wees. Het ons 10, 20 jaar gelede só ’n reaksie op die wedstrydreëls gehad wat ouderdom betref? Geensins, die ouderdomsperk van 25, en later 23, is nooit bevraagteken nie. Dinge hét verander en dis ten goede. Vroue is meer bewus van die voordele van fisiek en emosioneel gesond leef – juis omdat ons teen so ’n vinnige pas beweeg. Vandag kan ons (en ja, soms help ons die natuur so ’n bietjie aan!) 20 lyk op 30. Of 40 op 60, soos Cher onlangs op Vanity Fair se voorblad. Ons laat ons stem hoor en eintlik kan ons enigiets wees wat ons wíl. Net daardie wete kweek selfvertroue. Vroue laat nie meer toe dat hulle in boksies geplaas word nie, nie in hul verhoudings, in hul loopbane of deur hul tydskrif nie! Sou jy my op dié oomblik vra wat die mooiste voorblad maak, sal ek sê selfvertroue. Ná ’n mooi vel en oë en ’n glimlag wat praat, bly selfvertroue ’n vrou se heel mooiste eienskap.  So, hiermee stel ek SARIE Inspirasie Voorbladgesig-wedstryd vir 2011 oop vir almal van 18 en ouer. En dis reg so, want ouderdom ís irrelevant. Nou wag ons net op jóú inskrywing. Tot ons weer gesels wanneer die Mei-uitgawe vanaf 18 April met ’n treffer- mode-en-skoonheidsbylaag op die rak is.      NS: Almal wat byna 18 is, volgende jaar het jy ’n kans!"    - Michélle Michélle van Breda