Forbesse lys van die hoogs betaalde vroulike atlete is weer bekend gemaak - en dit lyk of tennisspelers die grootste geld maak.

Bo-aan dié lys staan die tennisster Maria Sharapova wat nie net onlangs die Franse Ope gewen het nie, maar oor die afgelope jaar sowat $29 miljoen (R285 miljoen) ingepalm het. Sy speel in advertensies vir onder meer Nike. Sy het ook haar eie lekkergoed-besigheid - lees meer oor haar soetighede hier.

Maria Sharapova

Mede-tennissterre Serena Williams, die Chinese Li Na en Victoria Azarenka van Belarus is kort op Maria se hakke. Hulle het onderskeidelik $20.5 miljoen (R196 miljoen), $18.2 miljoen (R176 miljoen) en $15.7 miljoen (R147 miljoen) verdien.

Vyfde op dié lys is die NASCAR-jaer Danica Patrick. Sy is die vrou wat die beste nog gevaar het in dié resies wat gewoonlik net manlike drywers het. Die Suid-Koreaanse sierskaatser Kim Yuna het al twee keer die wêreldkampioenskappe gewen. Sy word ook geborg deur groot maatskappye soos Samsung, Korean Air en KB Financial.

Sewende, agste en negende op die lys is nóg tennisspelers, die Deense Caroline Wozniacki, die Poolse Agnieszka Radwanska en Ana Ivanovic van Serbië. Buiten vir Caroline se prysgeld en borge, is sy ook in 'n verhouding met die gholfspeler Rory McIlroy. Agnieszka is dalk net 24 jaar oud, maar sy is 'n gunsteling onder die tennisskare. Alhoewel Ana die afgelope jare nie baie toernooie gewen het nie, word sy geborg deur Adidas en ander luukse handelsmerke soos Rolex.

Paula Creamer beland onderaan die lys, maar dit beteken nie haar salaris is iets waarvoor ons sal neus optrek nie - met $5.5 miljoen (R54 miljoen) vir dié jaar is sy die hoogs betaalde vroulike gholfspeler.

Maria SharapovaFOTO: Sewe van die tien hoogs betaalde vroulike atlete is professionele tennisspelers.

Dié lys word opgestel deur die sportsterre se prysgeld en borge in ag te neem.