When Harry Met Sally, Sleepless in Seattle, Kate & Leopold, City of Angels. In die 90's was sy die onbetwiste koningin van romantiese komedies. Haar naam het destyds vir van die grootste lokettreffers gesorg. Maar deesdae sien ons haar nooit meer op die silwerskerm nie. Hoekom dan so? 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die laaste keer wat die pragtige 56-jarige aktrise in 'n fliek verskyn het, was in 2015. Dit was in die rolprent Ithaca, waarvan sy ook die regie behartig het. Ongelukkig het die fliek net 13% op Rotten Tomatoes gekry. Sedertdien het sy heeltemal uit die kollig verdwyn.

In 'n onderhoud met Vanity Fair in 2016 het Meg erken dat sy nie meer opgewonde oor toneelspel raak nie. Haar fokus lê nou eerder by regie. 

Voorheen het sy al verklap dat haar kop nooit juis Hollywood toe gestaan het nie. Sy het in die 80's joernalistiek aan die Universiteit van New York studeer. Vir sakgeld het sy in advertensies en later ook sepies gespeel. Dis toe dat sy gewild begin raak het en later so in aanvraag was dat sy 'n semester voor sy graad sou vang, opgeskop het. 

In die 1990's toe Meg Ryan en Dennis Quaid getroud was. FOTO Getty Images/ Gallo Images

Maar in die Vanity Fair-onderhoud het Meg haarself as 'n "vrotsige celeb" beskryf. "Ek sou nie 'n kans gehad het as my loopbaan vandag moes begin het nie. Dis 'n totaal ander ervaring, sosiale media het als kom verander. Ek kan nie die konstante veroordeling hanteer nie," het sy destyds gesê. 

In 2013 is Meg erg gekritiseer omdat sy glo aan haar gesig laat sny het. By foto's van haar is gesê sy is "skaars herkenbaar" met haar nuwe voorkoms.

Waar is Meg deesdae? Sy en haar aan-af-kêrel sedert 2011, die rock-ster John Mellencamp, is onlangs in New York gewaar. Op die fliekwebwerf IMDB lyk dit of Meg binnekort in 'n TV-reeks, Picture Paris, gaan speel. Die reeks gaan glo oor 'n ma wat Parys besoek nadat haar kinders die huis verlaat het.

Vroeër vanjaar by die New Yorkse Modeweek. FOTO Getty Images / Gallo Images

Meg se akteur-seun

Die aktrise was tussen 1991 en 2001 met die aantreklike akteur Dennis Quaid getroud. Die paartjie het een seun saam, Jack. Die 25-jarige was in twee Hunger Games-flieks te sien en het nou die hoofrol losgeslaan in die romantiese komedie Plus One. Gaan hy in ma en pa se voetspore volg? Dit lyk so.

FOTO Instagram / @jackquaid

Meg het ook 'n aangenome dogter, Daisy.