Die hertogin van Cambridge het Woensdagaand 26 Oktober 2011 haar eerste solo-verskyning as koninklike gemaak by In Kind Direct se jaarlikse liefdadigheidsonthaal. Sy het vir haar skoonpa, prins Charles, wat nie die geleentheid kon bywoon nie, ingestaan.

Sy het ’n soos gewoonlik die koppe laat draai met ’n liggrys, halternek-aandrok en 'n veel dikker haredos as gewoonlik...

Die dailymail.co.uk berig dat Kate haarstukke in haar hare gehad het. Dit is duidelik dat dit net vir die geleentheid gebruik is, want dit was hier en daar sigbaar (sien foto). Normaalweg word dié soort haarstukke met 'n tydelike gom vasgesit, maar hare is hier met ’n soort kleeflint in posisie gehou, daarom was dit nie heeltemal onopsigtelik nie. 

Hier is die haarstuk sigbaar

Die tydelike haarstukke is onder lae van haar eie hare ingeweef om meer volume te gee.

“Kate se hare lyk baie natuurlik en die styl wat sy gekies het vir die aand kan nie sommer sonder haarstukke reggekry word nie,” vertel Vicky Demetriou van die Londense haarsalon Daniel Hersheson aan dailymail.co.uk.

"Dit is glad nie ongewoon om geweefde haarstukke te gebruik nie. Dit word gewoonlik ingesit vir haarstyle wat nie met jou eie hare geskep kan word nie en om meer volume aan jou lokke te gee," gaan Vicky voort. Ander bekendes soos Victoria Beckham en Cheryl Cole het al erken dat hulle geweefde haarstukke gebruik om hul eie hare ekstra volume te gee. Die uitvoerende bestuurder van In Kind Direct, Robin Boles, het ná afloop van die geleentheid gesê dat hulle verheug was om Kate daar te hê en dat sy baie professioneel en stylvol is.

Prins Charles kon nie die geleentheid bywoon nie aangesien hy na Saoedi-Arabië moes reis om sy meegevoel aan die Saoedi-koningsgesin oor te dra ná die dood van hul kroonprins.